|
Beste Hoof in Nkangala streek |
|
Wat maak ‘n hoof die beste in die streek?
Vra jy die Middie-leerlinge, kom dit uit een mond: Jy moet mnr. Stronkie wees. Hy is die beste.
Meneer Johan Stronkhorst, hoof van Hoërskool Middelburg, is aangewys as beste hoof in die Nkangala-distrik vir 2000 – 2007. In die veranderde, mededingende opvoedkundige milieu van vandag is dit ‘n voorreg wat nie elke hoof te beurt val nie.
Maar Johan Stronkhorst, Mnr. Stronkie vir die meeste ouers, leerlinge, kennisse en kollegas is dit ‘n droom wat waar geword het. In net 7 jaar en 8 maande het hy sy stempel daadwerklik in die pragtige Hoëveldse dorp, Middelburg, afgedruk.
Kenners en nie-kenners van die onderwysstelsel sal weet dat dit vandag baie vra om die hoof van ‘n skool te wees. Deeglike kennis van die onderwysstelsel en daarby geduld, liefde, naastediens, vernuftige bestuursvermoë, vriendelikheid – dit is maar ‘n paar van die eienskappe waaroor ‘n hoof moet beskik om die pas vol te hou. Gelukkig beskik meneer Stronkie in oormaat oor die eienskappe.
Onder die bekwame leiding van ‘n hoof wat elke leerling by die naam ken, moeite doen om van elkeen se omstandighede uit te vind en daarby nog dissipline en opvoedkundige leiding toe te pas, het Hoërskool Middelburg die laaste 8 jaar die kruin van sukses betree en ry ons die golf met passie.
Akademiese uitblinkers is sinoniem met Middies. MHS is in 2011 die beste akademiese skool in Mpumalanga en het ook 'n spesiale trofee ontvang by die streeksprysuitdeling van Nkangala vir uitstekende onderwys.
Vra jy … maar wat van die sport ? – dit spreek ook van toewyding, motivering en ondersteuning uit die hoof se kantoor. Jy sal meneer Stronkie altyd langs die sportvelde sien – en ja – hoor ook. Menige sportman sal kan getuig dat die adrenalien sommer vinniger vloei wanneer meneer Stronkie se luide aanmoediging van die pawiljoen of die kantlyn af gehoor word!
Gelukkig weet Middies se hoof ook van die waarde van kuns en kultuur. Ons kultuurleerlinge word elke jaar meer en meer en leerlinge dra arms vol prestasietoekennings van Eistedfodds, Kunswedstryde en Redenaarskompetisies.
Meneer Stronkhorst se drie dogters en vrou, Adré, is mal oor hulle “gesinsman”. Tussen die besige tye by die skool wat die meeste van sy energie opslurp, sal Stronkie altyd sy gesin as die kalm, rustige afsaalplekkie opsoek. Tuis kan hy gedy onder die sorg van sy gesin en sy “battery charge” vir die volgende dag by die ‘oopdeur-kantoor’ waar vriend, ouer, leerling, kollega en vreemdeling welkom is.
|