Ons skool

Waardes

Middies deur die oë van twee gr. 7-leerders

Zoé Beetge Medium  Barend Medium
Deur Engela Volschenk
Soms is dit baie moeilik vir ‘n gr. 7-leerder om die regte hoërskool te kies. Baie faktore speel ‘n rol in jou keuse. Zoé Beetge is ‘n gr. 7-leerder by Laerskool Staatspresident CR Swart. Aanvanklik het sy besluit om nié MHS toe te kom in 2018 nie, want haar maats se keuse vir ‘n hoërskool het op ‘n ander skool geval. Sy het (gelukkig) later besef dat haar karakter sterk genoeg is om nie afhanklik te wees van dié maats nie en dat sy selfstandig genoeg is om nuwe maats te kan maak. Sy en haar ouers het rustig gaan kyk presies wat alles hier by Middies gedoen word en het besef dat hulle waardes in ritme klop met dít wat ons hier by Hoërskool Middelburg glo en doen. Zoé deel ‘n paar van hierdie gedagtes met Die Rissiepit.
“Lééf jou droom in groen en goud
John C Maxwell het eens gesê: ‘Goals may give focus, but dreams give power.’ MHS sê mos nie verniet: ‘As jou drome jou nie bang maak nie, is dit nie groot genoeg nie.’
Om ‘n individualis te wees is vir my ‘n belangrike karaktertrek. Tydens die opedag het dit vir my uitgestaan dat ek by Middies self kan besluite neem en keuses maak, maar ook die gevolge daarvan moet dra.
Om jou beste te gee is goed genoeg en deelname is belangrik. Elke individu is iemand en elkeen se talente word raakgesien.
Akademie is ‘n prioriteit by Hoërskool Middelburg, die personeel is bekwaam en natuurlik is die wi-fi ‘n bonus. Sonder dissipline kan ons nie funksioneer nie en aangesien MHS ‘n waardegedrewe skool is, is die dissiplinebeleid aangepas ten opsigte van vandag se tye.
Ek is ‘n voorstaander van kreatiewe denke en vryheid met perke. Ek weet dit is wat ek by Middies as ‘n leerder gaan ervaar.
By Hoërskool Middelburg word ‘n gesonde omgewing geskep waar jy net jouself kan wees, waar jy jou drome vrye teuels kan gee en waar jy boonop toegelaat word om vrae te kan vra.
Ek is ‘n trotse amper MIDDIE en kan nie wag om in groen en goud 2018 in die oë te kyk nie.”
Zoé het reeds haar Middie-skoolklere gekoop en sê sy sien met groot opgewondenheid uit na die uitdagings en avontuur hier by MHS.
Nóg ‘n gr. 7-leerder wat besluit het om in 2018 deel te word van die Middie-familie is Barend Kurpershoek. Hy is ‘n gr. 7-leerder by Laerskool Middelburg. Sy groot oorweging om in groen en goud sy hoërskoolloopbaan aan te pak, was hokkie. Barend deel die volgende met Die Rissiepit.
“Hokkieskool … Hier kom ek!
Junie 2016 ... ons oefen hokkie. Skielik is ‘n vreemde oom ook by ons. Hy gaan ons nou afrig. Maar ... hy lyk so kwaai. Hoe gaan ek dit ooit weer geniet om hokkie te speel?  Min het ek besef dat dit juis hý is wat gaan sorg dat Middies my gunsteling hoërskool gaan word. En wie was die vreemde, kwaai oom? Natuurlik oom Coena!
Met MHS se opedag het ons groep gelukkig gou by die mini-astro gekom. En nee, dit was nie klein astro’tjies om te eet nie ... dit was die HOKKIE-astro waar ons bietjie ‘skills’ kon oefen. Nóú het ek finaal besef: Hier, by Middies en oom Coena, wil ek wees!
Maar om my so bietjie bang te maak – want ‘n graad 8 moet mos nederig in die skool inkom – het die leiers ons Spookhuis toe gevat. Die musiek was ‘freaky’! Nog nooit het ek so vinnig deur elke hoekie van die binnenshuise krieketnette gehardloop nie. Selfs nie Willem (my ouer broer) in sy slegste bui het my al so laat spaander nie.
Om te kyk of ons reaksies vinnig genoeg is om as Middie te kan klassifiseer, is ons MSSI toe gevat. Daar het ons saam met al ons vyande deelgeneem aan aktiwiteite en skielik besef: Dit gaan mos lekker wees om volgende jaar in Middieland selfs met Kragbron-manne pêlle te wees! En net om seker te maak dat ons nie die Kragbron-meisies vergeet nie, het ons lekker die aand kon sokkie!
Wat begin het as ‘Ek-gaan-Middies-toe-want-my-boetie-en-sussie-is-daar’,  het met oom Coena en die opedag geword ‘Ek-gaan-beste-hokkieskool-toe-om-die-lewe-ook-met-nuwe-vriende-saam-te-ontdek’!  Nou kan ek nie meer wag om groot-groot-skool toe te gaan nie. Middies ... hier kom ons!”

Beste dissiplinebeleid in Suid-Afrika

18699817 1844769719183384 361454491172711813 n

MIDDIES WORD AANGEKONDIG AS SKOOL MET DIE BESTE DISSIPLINEBELEID IN SUID-AFRIKA!

MHS wen die jaarlikse Wandel met waardigheid-dissiplinekompetisie aangebied deur Afriforum. Me. Carien Bloem, projekkoördineerder: Onderwys, het die prys tydens saalopening oorhandig.

Middie-waardes

Middies waardes A4 Medium

Dissipline is deel van Middies se DNA

Voorblad Final Final Medium
Middelburg Hoërskool se leiers, in hulle kenmerkende streepmuisbaadjies, help leerders om grense te stel en verantwoordelike besluite te neem. Michael Butcher (onderhoofleier akademie), Henrico Störm (onderhoofleier sport), Jacques Oostendurp (onderhoofleier kultuur), Miquel Pieters (hoofseun), Nanet van der Linde (hoofdogter), Louise Volschenk (onderhoofleier kultuur), Louise Hertzog (onderhoofleier sport), Elzeth Steenkamp (onderhoofleier akademie).

Hoekom kom MHS-leerders skool toe? Verseker nie omte hoor hoe ’n juffrou haar longe gillend oefen of omdie lewe vir die personeel nag te maak nie. Ons is ook niehier om in rye te stap en detensie te sit nie. By Middelburg Hoërskool leer ons elke dag om met selfvertroue saam met ander mense te leef en ons Godgegewe plek in die samelewing te kan volstaan.

Middies is soms - soos alle mense - ook maar boelies en luisterte en slonsies. Maar ware Middies verlang tog daarna om sinvol saam met alle mense te kan saamwerk, saamleef en saamspeel. Daarom waardeer Middies ook dissipline.

By Middelburg Hoërskool beteken dissipline nie ’n klomp reëls op papier in die skooldagboekie nie. Dit is ook nie ‘n skrobbering van ’n onderwyser omdat jy net aan jouself gedink het - of dalk glad nie gedínk het nie. Néé, dissipline is ’n proses waarmee onderwysers jou begelei om die nodige vaardighede te ontwikkel sodat jy verantwoordelik saam met almal om jou kan leef. By MHS fokus dissipline dus daarop om die verhoudinge tussen mense te orden.

Maar wat help jongmense om meer sinvol in hulle verhoudinge op te tree? Die sogenaamde “Circle of courage”-model sê dat wanneer aan vier basiese behoeftes van jongmense aandag gegee word, hulle al meer in hulle verhoudinge floreer. Daarom is dissipline die proses waarin jongmense begelei word om te behoort, besluit, bemeester en te bedien:

’n MHS-tiener voel soms maar onseker en moet begelei word om te behoort.
‘n MHS-tiener wil soms self koers kies en moet begelei word om reg te besluit.
‘n MHS-tiener sukkel soms om te “cope” en moet begelei word om die lewe te bemeester.
’n MHS-tiener is maar selfgesentreerd en moet begelei word om te bedien.

Juis daarom fokus MHS-dissipline van dag een af daarop om behoort, besluit, bemeester en bedien deel van die Middie-DNA te maak.

Vandat ’n Mini-muis in MHS instap, is alles immers daarop gerig om die nuweling deel van die groot Middie-familie te maak. Die eerste weke, die Middiekamp, die spesiale Minimuisdrag, die doelbewuste leer ken van Middie-tradisies sorg dat elkeen gou-gou voel hy of sy BEHOORT by MHS. En ’n Middie wat BEHOORT, pas ander Middies soos goud op. Daarom is daar meer ervare lede van die Middie-familie wat vir minder ervare Middies die grense stel sodat jy op jou lewenspad veilig is. Daarom respekteer elke lid van MHS-familie elke ander lid - of dit die skoonmaker of mnr. Stronkhorst of jou klasmaat is. So leef Middies sinvol saam met mekaar, want elkeen BEHOORT.

Om self te kan BESLUIT, is een van die goue drade van die MHS-lewe. Van dag een leer mens immers in MHS: Jy kan sélf BESLUITE neem en keuses maak, maar jy dra ook die gevolge van jou keuses. Gooi jy die stinkbom, is jý die een wat eerlik by mnr. Stronkie gaan opdaag en sê: “Dit was ek!” Maar wil jy graag van klas verander, is jy ook die een wat met goeie argumente vir mnr. Stronkie kan oortuig hoekom jy moet skuif. By Middies leer ons nie om net pionne op die skaakbord te wees nie. Néé, ons leer geleidelik om al meer self te BESLUIT waarheen die pion moet skuif.

In MHS verstaan ons hoekom ons oupas en oumas van MEESTER gepraat het toe hulle na ‘n onderwyser verwys het: Dis immers onderwysers wat jou help om nie net jou skoolwerk nie, maar ook die lewe te “BE-MEESTER”. Daarom is die Middie-bestuurspan, Middie-onderwysers en Middie-leiers nie mense wat jou bestuur en dreig en straf nie. Néé, hulle is rolmodelle wat jou aanspoor om drome te droom én ambisies te bereik en reismaats wat jou aanpor en ondersteun om alles wat jy aanpak, te BEMEESTER.

By die geel-groen-en-swart-skool word elke keer weer gesing: “A! Ons is ’n skool van daad.” En dit word met oorgawe gesing, want Middies sorg daarvoor dat hulle mekaar prakties BEDIEN. ’n Middie-hart vol omgee en ’n Middie-oog vol deernis lei altyd weer tot ’n Middie-hand wat help. En ’n Middie-hand wat help, soek nie in die eerste plek sy eie belang nie. Néé, ’n Midde-hand wat help, DIEN die ander; BEDIEN die ander. En wanneer jy BEDIEN, kom daar respek en omgee en vrede in die verhouding.

By MHS word dus gepoog dat elke kind in sy of haar verhoudinge floreer. Daarom is dissipline-wiskunde deel van die Middie-DNA: Behoort + Besluit + Bemeester + Bedien = Dissipline.

Waardegedrewe onderwys is niks nuuts by MHS nie.

Elani Nell 2014 10 28 10 04 14 AM 3072x4608 Small(soos geskryf deur Elani Nell – hoofdogter 2015)

MHS handhaaf Christelike beginsels van waardegedrewe onderwys wat elke leerder maksimaal ontwikkel.

Waardes is die gom wat MHS saambind. Waardes soos respek, eerlikheid, betroubaarheid, verantwoordelikheid, regverdigheid, trots en omgee.

In onderwyskringe is die beginsel van “waardegedrewe onderrig” ’n gonswoord. By MHS is dit egter glad nie ’n nuwe benadering nie, aangesien hierdie fokus op waardes eerder as reëls al geruime tyd die grondslag vorm van die skool se dissipline.

By MHS word elke Middie aangemoedig en kry hulle erkenning. Omdat die fokus geplaas word op die positiewe, voel alle kinders sommer welkom by MHS.

’n Gesonde balans word gehandhaaf tussen akademie, sport en kultuur en leerders word toegerus met lewensvaardighede om hulle voor te berei op die eise van die wêreld buite die skoolgrense.

MHS se waardegedrewe benadering werk prakties deur die aangename en ontspanne atmosfeer wat die onderwysers in die klasse skep. Leerders neem met vrymoedigheid deel aan klasgesprekke en hier word hulle opgevoed om verantwoordelike keuses te maak. Deur die waardegedrewe onderwys vorm MHS sy leerders tot gebalanseerde, bekwame volwassenes wat hulle plek in die samelewing kan volstaan. Hier word kinders geleer dat hulle hulle drome kan uitleef en bereik deur getrou te bly aan hulle waardes.

Middies - ‘n skool van daad

L19491470 SmallDeur Louise Volschenk

Hoërskool Middelburg is nie net ‘n skool nie, dit is elke leerder se trots. Dit is hier waar waardes die fondament is waarop elke leerder staan. Geloof en plig is nie net ons leuse nie, dit is die leefwyse van elke Middie. Dit is hier waar jy leer hoe om die lewe vierkantig in die oë te kyk sonder om bang te wees vir dit wat voorlê.

John C. Maxwell het geskryf: “ ‘n Lewe van voortdurende groei is nooit maklik nie, maar ‘n gunstige omgewing maak die opdraande pad veel aangenamer.” Hier by Middelburg Hoërskool word ‘n gunstige omgewing geskep vir elke leerder wat daagliks besig is om te groei.

By MHS groei ons eerstens in geloof. Elke Maandag word die saalopening deur ‘n Christelike leier in ons gemeenskap waargeneem en die res van die week open die hele skool gesamentlik met skriflesing en gebed. Dit is nie iets wat vinnig afgeskeep word nie en die boodskap word duidelik aan die leerders oorgedra – ons Christelike geloof is die grondslag vir MHS se waarde- en dissiplinesisteem. Vrydae se CSV bied ook aan elke leerder die geleentheid om sy/haar skoolweek op gepaste wyse af te sluit.

By MHS is deelname belangriker is as wen. Elke leerder kry hier die geleentheid om sy talente te ontwikkel. Daar is vanjaar selfs ‘n 4de rugbyspan wat met trots deelneem en weereens ‘n bewys is dat geen leerder weggewys word as hy/sy nie die A-span gehaal het nie. Middies staan egter nie terug vir enige teenstander nie en ontvang kwaliteit afrigting. Dit reflekteer in die string provinsiale- en nasionale spelers- en afrigters waarmee Middies spog.

MHS plant by elke Middie die saadjie van harde werk en hier word jy geleer dat dit jou eie keuse is of jy die saadjie gaan water gee. MHS glo in niks anders nie as die beste onderwys en dus het elke leerder die geleentheid om die beste toekoms vir hulself te skep. Akademie is Middies se eerste prioriteit en leerders word blootgestel aan doelgerigte onderwys. Nuwe klaskamertoerusting, onder andere “smartboards”, word jaarliks aangeskaf om maksimale onderrig te verseker. By MHS kry leerders die geleentheid om kennis ook prakties toe te pas. Met ‘n nuut opgeknapte gasvryheidstudiekombuis en ons eie Middieplaas, kan leerders nou nuwe vaardighede aanleer gedurende praktiese studies.

Middies maak ook tyd vir pret en hier vang ons gees op ‘n unieke manier. Van ‘n “Colour Festival” tot ‘n “Surprise night” - hier doen ons dinge net ánders. Kaskardag, mnr. Macho en mej. MHS, Blyspel en “Middies got talent”, is maar net ‘n paar van die interessante aktiwiteite waarna Middies jaarliks uitsien. Middies het beslis die beste gees in die dorp!

Middelburg Hoërskool skep ‘n gunstige omgewing vir elke leerder om te groei. Hier dra elke Middie die groen en goud met trots en daarom skree elke Middie uit volle bors: “ Ons is ‘n skool van daad!”