Clark word superman op hokkieveld

Dante Clark Large

Wanneer die hokkiebal op een of ander geheime manier sy pad verby Middies se verdediging vind, kyk ondersteuners van die skool se eerste seunshokkiespan steeds met geruste harte toe. Want hulle weet iets wat die ander span nie weet nie: Danté Clark staan nog in die pad van enige moontlike doel.

Die MHS-doelwagter se doelrapport was sonder enige F-simbole tydens die Classic Clash teen HTS Middelburg, terwyl Middies teen SACS (een van die beste hokkieskole in die land) net een doel afgestaan het.

Maar snaaks genoeg was Clark nie altyd die speler met die beenskutte en die groot handskoene nie.

In graad agt het sy span nog nie rêrig ’n doelwagter gehad nie, en omdat hy paaltjiewagter vir sy laerskool se krieketspan gespeel het, het hy sy Kookaburra-handskoene vir sy OBO-valhelm verruil en die res - om die geykte uitdrukking te gebruik - is geskiedenis.

Hy het in sy eerste jaar in dié posisie Mpumalanga-kleure gekry en vanjaar draf hy weer eens vir die Mpumalanga B-span uit.

“Dit is ’n lekker plek op die hokkieveld want jy moet vir almal kan sê waar hulle moet verdedig. Dan moet jy ook vinnig kan beweeg. Maar as ons byvoorbeeld 8-0 voorloop, kan dit nogal vervelig en warm raak!” sê die graad 11-leerling.

Hoërskoolspelers kan ’n hokkiebal taamlik hard slaan en Clark se handskoen het al gekraak na hy ’n doelskoot gekeer het. Hy vertel dat hy al van sy beste keerwerk in die drukkokersituasie van die agtsekondereël gemaak het.

“Jy kyk na die eerste beweging wat die doelskieter maak en probeer om só te bepaal of hy links of regs gaan skiet. Natuurlik kan jy hom probeer intimideer deur vinnig uit te kom, maar sommige ouens het senuwees van staal.”

Daar gebeur ook ’n paar snaakse dinge op die hokkieveld.

Tydens een spannende agtsekonde-sessie het die speler ingestorm, en net voor hy moes skiet, gegly en geval. Clark het doodluiters gewag vir die bal na hom te rol - ietwat van ’n anti-klimaks in só ’n situasie!

Die 17-jarige het ’n sterk vertoning teen HTS Middelburg gelewer en was een van die sterre in MHS se oorwinning van 2-0. Hy het veral in die tweede helfte met sy aanvallende keerwerk beïndruk.

Net voor die onderhoud het hy ’n Engelse toets geskryf.

Op die skoolbanke mag hy Clark heet, maar op die hokkieveld is hy ’n Superman!

• Wat sy afrigter, Coena Swart, van sy spel sê: “Danté het ’n goeie aanvoeling vir die spel. Hy is baie beweeglik en vreesloos!”