Middie met ’n spiesiale talent!

nathan3a Medium

Dit is nie altyd lonend om ’n weddenskap aan te gaan nie. Maar jy kan gerus die inhoud van jou kosblik in randwaarde omskakel en dit op Nathan du Toit se volgende velditem as waarborg neersit. Die 14-jarige Middie gooi gereeld goud in die spiesgooi-, diskus- en gewigstootitems los. En o ja, hy is ook ’n lid van die o/14’s se 4x100-aflosspan.

Van die vier items is spiesgooi sy gunsteling en dit is duidelik as jy na sy prestasie by HTS Middelburg se spogbyeenkoms kyk wat sterk kompetisie soos Helpmekaar Kollege en kie ingesluit het.

Met sy eerste gooi van 48 meter het hy reeds die rekord verbeter. Hou die versnelknoppie vir ’n paar minute in en met sy gooi van 50.40 meter skop hy as’t ware stof in sy eie oë. Hy het by dieselfde byeenkoms ook goud in die diskus gesmaak met ’n poging van 39.37m.

Du Toit heg groot waarde aan oefen en hy skaaf tans vir vyf dae per week aan die verskillende atletiekdissiplines.

“Iets soos uithouvermoë is vir my baie belangrik. Jy moet leer om aan te hou oefen, selfs al kry jy swaar.”

Sy afrigter by MHS én self ’n kranige spiesgooier op haar dag, Alti Nel, is vol lof vir Du Toit se vaardighede.

“Hy het ’n blitsige armaksie, goeie ritme en vloeiende styl. As hy nog bietjie aan sy heupaksie werk, sal hy baie groot afstande behaal. Nathan is beslis ’n baie groot talent.”

Tog is Du Toit eintlik ’n krieketspeler en hy speel vir Middies se o/15-krieketspan in die Finsburyreeks.

Die voormalige Proteasnelbouler, Fanie de Villiers, het destyds in ’n onderhoud gesê dat sy spiesgooivermoë baie tot sy sukses as bouler bygedra het. En Du Toit verleen beslis gewig tot De Villiers se stelling.

Die graad agt-leerling vertel dat tydens ’n toets by Bankenveld in eMalahleni een van sy aflewerings teen vinniger as 125km/h gemeet is. Dit is dus geen verrassing dat sy sportheld die oud-Aussieblits, Brett Lee, is nie.

Maar dit is nog die atletiekseisoen en Du Toit mik om weer by die SA Skoolkampioenskap in aksie te wees. Hy het dié prestasie reeds in graad ses en sewe by Laerskool Kragbron behaal.

Kan Nathan du Toit die spies verder slinger?

“Ja, ek glo so. As alles volgens plan verloop, weet ek dat ek ’n gooi van 56 meter in my het.”

Verlede jaar het MHS vir Lebogang Maloka gehad. Vanjaar het hulle onder andere vir Nathan du Toit.

• Du Toit se bestes:
Spiesgooi: 53 meter
Diskus: 39 meter (1kg)
Gewigstoot: 12.31m (4kg)

• Mees komiese ding wat al met hom op die atletiekveld gebeur het: “Ek het vir die eerste keer in my lewe in graad ses op ’n tartanbaan deelgeneem en ek was glad nie gewoond daaraan nie. Tydens een van my gooie het my spykerskoene vasgehaak en ek het letterlik bollemakiesie geslaan.”

• Middies op 23 Februarie op Germiston in aksie by hul Interhoër. Die deelnemende skole sluit Benoni High, Hoërskool Ben Vorster, Bergsig Akademie, Hoërskool Florida, Hoërskool Hugenote, Potch Volkies en Hoërskool Montana in.