McDonald boer met grenshoue

donovan1

’n Skouspelagtige ineenstorting het in 2015 gesorg dat Hoërskool Middelburg nie vir Nelspruit in die Mpumalanga T20-kampioenskap kon klop nie. Maar bordjies is egter gemaak om verhang te word en dit is presies wat Middies vanjaar gedoen het.
Die skool het die Laevelders met 16 lopies getroef om as die provinsiale blitskrieketkampioen gekroon te word. En voor in die MHS-kolfkoor is Donovan McDonald.
Die veelsydige matrikulant het die langsteel behóórlik ingelê om 53 lopies van slegs 31 aflewerings in die eindstryd te moker. Sy warrelwindbeurt het teen ’n indrukwekkende treftempo van 170.9 gekom. Om dié statistiek in perspektief te plaas: van die 19 kolwers wat in die onlangse finaal van die Big Bash League in Australië gekolf het, het slegs Kevin Pietersen, Usman Khawaja en Aiden Blizzard teen ’n vinniger tempo lopies aangeteken.
Daarna het Darius Millard vier paaltjies geneem om die Nelspruiters se lopiejaagtog in die wiele te ry.
McDonald - ’n oud-Koedoekop - spog met ’n hoogste telling van 87 in skoolkrieket, terwyl 4/30 sy beste boulontleding is. Hy was al lid van die SA Bokkiespan wat in Dubai getoer het en hy beplan om volgende jaar klubkrieket in Engeland te speel.
“Ek is opgewonde oor ons span se kanse vanjaar en ek glo ons kan die liga wen,” laat weet hy Dinsdagoggend
Met ’n Middiekrieketspan wat name soos David Blenkinsop, Millard, Aiden Vandenbrouck, Arno Kruger, Andrew Martin, Elnu Potgieter en kie insluit, kan hulle vir nog ’n paar seisoene sukses op die kolfblad vier.
• Middies se bestes:
* Klop Secunda met vyf lopies. David Blenkinsop slaan 39 van 41 aflewerings, terwyl Andrew Martin (2/29) en Elnu Potgieter (1/18) die Hoëvelders se lopiejaagtog gekniehalter het.
* Klop Nelspruit met 16 lopies. McDonald slaan 53 van 31 balle, terwyl Millard 4/2 geneem het.
• Die span wag nog vir finale reëlings oor hul verdere wedstryde in die nasionale T20-reeks.