Middie laat paaltjies spat!!

Elnu Potgieter 2 Medium

Jy weet jy is op die regte krieketpad wanneer jou profiel op die gesaghebbende Cricinfo-blad verskyn en nie net op Facebook nie. Dít is presies wat Hoërskool Middelburg se Elnu Potgieter vermag het.

En hoe dan anders, die Middiehotklou het wéér met die bal by die o/19 Khaya Majola-week uitgeblink.

In vyf wedstryde gedurende die toernooi het hy sewe paaltjies vir Mpumalanga laat kantel, insluitende ’n spogontleding van 5/8 teen Limpopo in ’n T20-kragmeting. Dit is die tweede jaar dat hy spelers vanuit die Noorde laat bontstaan: hy het verlede jaar óók 5/8 teen Limpopo tydens die o/17-week geneem.

“Ek geniet dit om teen hulle te speel,” laat weet hy Woensdagoggend laggend by die skool.

As ’n linkshandige snelbouler is die grootste pyl in sy aanvalskoker waarskynlik die vermoë om die bal te swaai, veral as hy van oor die paaltjies ’n aflewering na ’n regterhandse kolwer kan terugbring.

Die 18-jarige Potgieter speel reeds sedert sy graad vier-dae by Laerskool Middelburg provinsiale krieket en het beslis die nodige ervaring om op die hoogste skoolvlak te presteer. Gedurende 2014 se nasionale week het hy 10 paaltjies teen ’n indrukwekkende gemiddeld van 8.8 lopies per paaltjie platgetrek.

Nodeloos om die sê; sy held is die pas-uitgetrede Mitchell Johnson.

Die linkshandige Aussie-blits het veral in 2013 amok teen Engeland gemaak, toe hy sy spelpeil herwin het om 37 paaltjies in die reeks om die As met sy blitskartetse te neem.

Johnson het sy merkwaardige terugkeer met ’n reuse snor gevier - wat hy kwansuis gekweek het om die opposisiekolwers te intimideer.

Gaan Potgieter dan ’n soortgelyke snortegniek as sy held na skool volg?

“Nie sommer nie!” is sy vinnige antwoord.

Die MHS-matrikulant behoort vanjaar weer sy aanloop vir Mpumalanga se o/19’s by die Khaya Majola-week uit te meet en hy beoog om vir die Krieket Suid-Afrika se Cubs-toernooi gekies te word.

“Dan het ek ook ’n aanbieding vanuit Engeland gekry om daar professionele klubkrieket te speel.”

Maar vir eers konsentreer hy op sy skoolkrieket en met die plaaslike T20-reeks wat binnekort afskop, sal hy vir oulaas sy stempel op die provinsie se skoolvelde wil afdruk.

“Dit is my laaste jaar en ek wil beslis op ’n hoë noot klaarmaak!”

• Potgieter se statistiek by Khaya Majola-krieketweek:

T20-wedstryd teen Limpopo:
5/8 na vier boulbeurte teen ’n treftempo van 4.8 aflewerings per paaltjie.

Gedurende die hele toernooi:
36 boulbeurte, 124 lopies afgestaan, sewe paaltjies geneem teen ’n gemiddeld van 17.71 lopies per paaltjie.

Per wedstryd:
2/19 teen Westelike Provinsie
0/9 en o/9 teen Northern’s
5/8 teen Limpopo
o/47 en 13 teen Gauteng
0/32 en 3 teen SWD

• Oor sy profiel op Cricinfo is hy nederig: “As mens se ouers nie saam jou kan toer nie, kom die statistiek en inligting wat op die blad verskyn, handig te pas!”

• Hy gaan na matriek vir eers op sy krieketloopbaan konsentreer, waarna hy LLB by Ikeys wil studeer.

• Potgieter spog met die sesde beste boulsyfers gedurende die 2015 nasionale week.