Christopher van Leeuwen is 'n MIDDIEMAN!

4c338c49b012f4e4c9b60e5148840f22

Na 53 minute se speeltyd in die openingswedstryd van hul Curriebekerveldtog teen die Valke op Kemptonpark, het die o/21 Pumas ’n agterstand van 17-42 in die gesig gestaar. ’n Rapsie onder dertig minute en vier drieë later, het hulle nie net die agterstand uitgewis nie, maar óók die wedstryd 43-42 gewen.

Nóú speel hulle Saterdag in die halfeindstryd van die reeks teen dieGriekwas op Mbombela. En Christopher van Leeuwen - die span se vuurvreterslot - glo dat die einste veggees wat hul vroeër die jaar op die Barnardstadion getoon het, hulle handig teen die Kimberleymanne te pas gaan kom.

“Ons is ’n span wat in mekaar en die afrigters glo. Die feit dat baie van die groep verlede jaar vir die o/19’s gespeel het, beteken dat ons mekaar goed ken.”

Dit is juis daardie verstandhouding onder die spelers wat gesorg dat hulle onoorwonne in die ligawedstryde geëindig het. In sewe kragmetings het hulle 288 punte aangeteken - die tweede meeste van al die spanne.

“Ons probeer in ’n wedstryd meer drieë as die ander span te druk!” skerts Van Leeuwen Woensdagoggend.

Tog is hul verdedigingsrekord nét so goed. Net die Limpopo Blou Bulle het minder punte in die reeks afgestaan.

Op 105 kilogram en 2.00m in sy sokkies, is Van Leeuwen een van die sleutelspelers in die span, en hy het veral sy stempel teen die Boland afgedruk. Die Wynboere was verlede jaar die o/19-kampioenspan en hulle is goed opdreef in vanjaar se kompetisie (hulle het byvoorbeeld 101-19 met die Grens klaargespeel), maar die Pumas het hulle egter 56-40 in Nelspruit kafgedraf.

Hoewel hy nie ’n drie in die wedstryd gedruk het nie, het hy die nodige vuur verskaf en sy skittervertoning het hom die titel as speler van die wedstryd besorg.

Die oud-Middieslot vertel dat die sprong van skoolrugby na die junior Curriebeker nie so moeilik was nie. “Ek was bevoorreg om vir twee jaar Cravenweek (2012 en 2013) vir die Pumas te speel wat ’n goeie leerskool was. Dus was dit nie só ’n groot aanpassing nie.”

Hy rig deesdae Hoërskool Middelburg se sterk o/15-rugbyspan af wat tot die kwarteindstryd van die Beeldtrofee deurgedring het. “Hulle is ’n baie goeie span wat vinnig toepas wat jy hulle leer.”

Maar terug na Saterdag se halfeindstryd. “Griekwas se verdediging is rotsvas en ons sal sterk met die bal in hand moet vertoon. Ons het hulle al egter vroeër 30-19 geklop. Die span het ook al gedurende die seisoen gewys dat ons onder druk kan presteer en ons weet wat om in sulke situasies te doen.”

’n Wen Saterdag sal wonders vir rugby in Mpumalanga beteken. En met van Leeuwen en kie in hul geledere, het die o/21 Pumas ’n groot kat se kans. • Van Leeuwen is volgende jaar ook die mede-afrigter van MHS se o/16’s. • Die o/21-kragmeting skop Saterdag om 15:15 af. • In sewe wedstryde het hulle 288 punte aangeteken, en slegs 174 afgestaan. Elandré Botha is met ses drieë die span se voorste driedrukker.