Chef se span kan kóók vanjaar

Gert van der Wetshuizen MediumDit is net na 14:00 op ’n Donderdagmiddag voor die Julievakansie en Gert van der Westhuizen is druk besig met skoolaangeleenthede in sy kantoor by Hoërskool Middelburg. “Dié is my eintlike werk,” sê die MHS-adjunkhoof terwyl hy na ’n hoop lêers en vorms op sy lessenaar kyk.

  Maar dan dra Van der Westhuizen (of Chef, soos hy bekend staan) ook die hoed van die Pumas se Cravenweekhoofafrigter. En dié hoed word vanjaar met baie trots gedra.

Die provinsie se hoërskoolbestes is vanjaar onoorwonne tot die aanloop van die nasionale week. Hulle het in drie vriendskaplike wedstryde met die Blou Bulle, Haaie en Leeus afgereken en veral hul aanvallende spel maak van hulle gedugte teenstanders.

Hulle beskik - soos Mfundo Ndlovu teen die Haaie bewys het - oor individuele briljantheid. Die voormalige Middievleuel het ’n driekuns van drieë teen die Kwazulu-Natallers gedruk en het verdedigers in die lug laat gryp met sy vaart en goeie hardlooplyne.

Dan sorg spelbrekers soos JC Pretorius en kie dat die span van enige plek op die veld ’n drie kan druk, terwyl die agterlyn - indien hulle die dag op hul stukke is - altyd ’n faktor is.

“Die span se teenaanvalle is briljant en die tempo waarteen die ouens speel, sorg dat ons altyd gevaarlik bly.”

Tog voel Van der Westhuizen dat hul verdediging nog nie heeltemal op standaard is nie. Juis om dié rede het hulle tydens verlede week se oefensessie, saam die professionele Pumas, veral op die aspek van die spel gekonsentreer.

Hoewel dit steeds belangrik is om ’n aanvallende speler se voete onder hom uit te duik, het die Sonny Bill Williams-aangee moderne spelers genoodsaak om hul verdedigingstrategieë aan te pas.

“Dit is een van ons mikpunte om vanjaar die beste span op verdediging by die Cravenweek te wees. Ons het onder andere gekyk om op ’n speler se bolyf toe te slaan om sodoende sy momentum te stuit en laat-aangeë te neutraliseer.”

Die toernooi word vanjaar in die Kaap beslis en Van der Westhuizen wil gereed wees vir enige moontlikheid - insluitende ’n nat Paarl. “Omdat ons reënweer verwag, het ons veral aan ons skopwerk geskaaf, terwyl ons ook op die vermoë om vanuit ons gebied te speel, gefokus het. Ons wil vanjaar in die hoofwedstryd op die laaste dag speel. Die span het die vermoë om dit te doen.”

Soos altyd sal hy ook sy spelers maksimum blootstelling wil gee om uiteindelik vir die SA Skolespan gekies te word.

“Daar heers ’n goeie gees onder die seuns. Daar is niks so goed soos ’n wen om jou selfvertroue op te bou nie.”

En die Pumas sal vanjaar wil aanhou wen.

• Pumas se uitslae in aanloop tot Cravenweek: 29-10 teen Blou Bulle 43-31 teen Haaie 35-29 teen Leeus

• Hulle sal voor die aanvang van die toernooi ’n oefenkamp by Alan Zondagh se sentrum bywoon.

• Die Cravenweek is van 13 tot 18 Julie by Paul Roos en hul eerste wedstryd is teen die Grens.

• Hoërskool Nelspruit se Coenie Kruger is die kaptein, met nóg ’n Laevelder, Wessel Muller, die onderkaptein.

• Van der Westhuizen se 2013 Cravenweekspan het die week in die derde plek afgesluit toe ’n Brandon Thomson-strafskop die Vrystaat in die doodsnikke van die hoofvoorwedstryd gesink het.