Jare se hokkiesukses…

maar astro laat Wilke breed glimlag!

Annemarie Wilke MediumAnnemarie Wilke vertel dat haar loopbaan as hokkieafriger in 1989 by Hoërskool Middelburg begin het. “Daar was letterlik ’n fluitjie in my hand geprop en ek is in die rigting van die derde en vierde spanne beduie. Van die senuwees was my hande papnat gesweet.”

Ses-en-twintig jaar later en coach Meraai - soos die kinders haar noem - het ’n magdom provinsiale spelers én spanne op haar hokkiekerfstok. Veertien provinsiale én twee Noordvaaltrofees in die afgelope 12 jaar sorg ook dat haar vertoonkas kreun onder die gewig van al die silwerware.

Maar verlede Vrydag was haar glimlag net so groot as met enige van dié prestasies toe Middies se oefen-astrobaan amptelik geopen is.

“Dit is ’n groot droom wat waar geword het. Jy kan ál jou vaardighede op die baan oefen en dit is beslis tot voordeel van die spelers. Met die twee volsirkels kan spanne seweshokkie speel én agtsekondes-uitspeelstryde kan daarop beslis word. Die beter oppervlak sorg ook dat jou meer ingewikkelde hokkietegnieke - soos die drag flick en upright backstick - ingeskerp kan word,” vertel sy Woensdagoggend entoesiasties by skool.

Deur die jare was daar verskeie Middiespanne wat by die astro kon baat en niemand meer as die Predators van 2009-2013 nie. Van die 15 moontlike eindstryde waarin hulle kon verskyn, het hulle in 13 gespeel en 11 gewen. Spelers soos Marguerite en Marcia van Wyk, Nicola Alberts en Chanté Roos is al huishoudelike name in die Middiehokkiewêreld.

Volgens Wilke was die groep die sterkste wie sy nog afgerig het.

“Ek onthou veral die o/16 Noordvaaleindstryd in 2011 toe ons vir Menlopark 4-1 gewen het. Dan was Marguerite die beste speler met wie ek al gewerk het - as ons in haar jare die astro gehad het, sou sy waarskynlik haar o/18 SA-kleure ook gekry het.”

Haar sterk punt as afrigter is om kinders te motiveer en te help glo in hul vermoëns en doelwitte op die veld. “Ouerbertrokkenheid is ook baie belangrik. Hulle moet inkoop in die tipe hokkie wat die span wil speel.”

Deur die jare het daar al verskeie interessante oomblikke langs die hokkieveld plaasgevind - soos die keer toe sy as groentjie-afrigter saam die span ingelyf is.

 DSC 0089 Medium

“Die span moes my egter eers vang en hulle het my reg rondom die skool gejaag. By die B-rugbyveld het ek begin besef dat maak nie saak wat ek doen nie, hulle gáán my vaskeer. Ek onthou ek moes uiteindelik onder ’n oop kraan gaan lê!” vertel sy laggend.

Haar span van 2015 laat ook die prestasies inrol.

Hoewel hulle o/15 is, het vier van die spelers vir die o/16 provinsiale span uitgedraf. Boonop het hulle ses van die span se sewe doele tydens die nasionale week geskiet!

Maar wat doen jy as een droom ’n werklikheid geword het? Jy droom groter.

En Wilke en haar mede-afrigters by MHS droom nou van ’n vollengte astro.

• Annemarie Wilke loop al ’n lang pad in Middelburg. Sy was hoofmeisie van Laerskool Staatspresident C.R. Swart en het in 1982 by Hoërskool Middelburg gematrikuleer. Haar man, Pierre, is ook ’n hokkie-ringkop en is deesdae veral betrokke by haar spanne se motiveringsessies.