Gr. 8-kamp bevestig dat ons die regte hoërskool gekies het

DSC 0059 Medium

Deur Zane Nel

Met jou eerste tree in Middieland, gebeur daar beslis iets met jou. Dit is ‘n krieweling, ‘n gewaarwording, ‘n gevoel van “ek is só bly dat ek die regte hoërskool gekies het”.
Die gr. 8-kamp word gehou die eerste naweek na die skool in Januarie begin. Ons was almal tog maar bietjie skrikkerig, maar ook baie opgewonde.
Tydens hierdie kamp het ons gou ‘n trots geleer vir ons skoollied, skoolleuse en skoolkreet. Daar was baie tyd vir pret en ons het mekaar gou leer ken.
2017 se leiers – of eerder die ooms en tannies – het nie geduld dat ons laatkom nie. Dan het jy letterlik kennis gemaak met rooigrond en stroop…
Ons is in groepe ingedeel en dit was lekker om nuwe maats te ontmoet. Op die eerste dag het ons onder andere aktiwiteite gedoen soos vlotbou en die “Jack ass movie”. Dit was sommer groot pret en almal het gou besef dat spanwerk alles net soveel makliker en lekkerder maak.
Die res van die skool sal verstaan dat ons die volgende dag maar moeg was na ‘n nag van min slaap. Ja, hierdie jaar se leiers het nie vergeet van die kamptradisie om ons elke twee uur wakker te maak, tande te laat borsel met grondboontjiebotter en beddens te ruil met die maat langs jou nie. Die tweede dag het abseil en kaskarbou ons besig gehou en dit is afgewissel met liedjies uitwerk en opvoerings doen.
Daardie aand het almal grootoog na mekaar gekyk toe die leiers ons behoorlik uitgetrap het. En toe die verligting … hulle bedoel dit eintlik nie. Hierna het elkeen ‘n Streepmuis beffie gekry.
Die laaste oggend het ons begin met ‘n kerkdiens en tydens hierdie gewyde oomblik het elkeen besef dat Jesus dié belangrikste rol in MHS speel.
Nuwe vriendskappe is gesluit en alhoewel ons almal doodmoeg was, was dit ‘n lekker moeg. Ons het deel geword van die Middie-familie en het geweet wat bedoel word as almal praat van die Middie-gees. Na die kamp kon ons met trots sê dat daar groen bloed in ons are is en dat daardie krieweling met jou eerste skooldag hier by Middies reg was … jy hét die regte hoërskool gekies.