Muggies verloor hulle beffies

DSC 0031 Medium

Deur Catherine Duvenage

Maak die vere die voël? Die antwoord op hierdie vraag is debatteerbaar. Wat hierdie jaar se gr. 8’s by Hoërskool Middelburg wél weet, is dat die beffie die Muggie maak! Want sonder die voorreg om ‘n Streepmuis beffie bo-oor ons skoolklere aan te trek, is ons nie werklik 2017 se Muggies by MHS nie.
Tydens die gr. 8-kamp maak ons Muggies nader kennis met die leiers en mede gr. 8-Muggies. (Meer oor die gr. 8-kamp in ‘n berig elders in Die Rissiepit deur Zane Nel.) Die laaste aand het ons tydens ‘n seremonie ons beffies ontvang. Olga van Niekerk (gr. 8S) voel dat hierdie beffies ‘n briljante idee is, want omdat jou naam op die beffie staan, leer almal sommer gou wie jy is. Dario Pretorius (gr. 8S) sê dit laat hom nogal belangrik en uniek voel.
Ons moes ten alle tye hierdie beffies dra – dit was soos ‘n tweede vel en deel van ons skooldrag. Van vergeet om dit te dra was daar nie sprake nie, want geen gr. 8-leerder wil spog met negatiewe punte op hulle gedragsverslae nie.
Die volgende uitdaging voor ons deur was die groentjiekonsert en dit was vet pret. Ons het vir groot vermaak gesorg met ons danspassies, verhoogpersoonlikhede en kostuums.
Hierdie jaar se leiers is as “Oom” en “Tannie” aangespreek. Baie van die leiers was nogal kwaai, maar tog was hulle altyd bereid om te help en met hulle hulp het ons gou deel gevoel van die Middie-familie.
Soos by enige skool is daar kwaai én vriendelike onderwysers. Tog het almal ons tuis laat voel en ons het gou besef dat akademie hier by MHS baie belangrik is.
Die jaar het vinnig verbygespoed en voor ons ons oë kon uitvee het die dag van ons ontheffing aangebreek. Baie van ons het gemengde gevoelens gehad – ons was opgewonde, maar ook tog skrikkerig. Daarom kan ek die ontheffing beskryf as “walglik lekker”. Baie dinge het gebeur – soos om op die grond te swem, groen koeldrank met noedels in te drink en deur die fontein voor die skool te swem. Die beffie het beslis sy doel gedien, maar dit was tyd om hierdie stukkie lap weg te pak. 2017 se Muggies is nou volwaardige Middies en ons is trots om deel te wees van “die skool van daad”.