Middies deur die oë van twee gr. 7-leerders

Deur Engela Volschenk

Soms is dit baie moeilik vir ‘n gr. 7-leerder om die regte hoërskool te kies. Baie faktore speel ‘n rol in jou keuse. Zoé Beetge is ‘n gr. 7-leerder by Laerskool Staatspresident CR Swart. Aanvanklik het sy besluit om nié MHS toe te kom in 2018 nie, want haar maats se keuse vir ‘n hoërskool het op ‘n ander skool geval. Sy het (gelukkig) later besef dat haar karakter sterk genoeg is om nie afhanklik te wees van dié maats nie en dat sy selfstandig genoeg is om nuwe maats te kan maak. Sy en haar ouers het rustig gaan kyk presies wat alles hier by Middies gedoen word en het besef dat hulle waardes in ritme klop met dít wat ons hier by Hoërskool Middelburg glo en doen. Zoé deel ‘n paar van hierdie gedagtes met Die Rissiepit.
Zoé Beetge Medium“Lééf jou droom in groen en goud
John C Maxwell het eens gesê: ‘Goals may give focus, but dreams give power.’ MHS sê mos nie verniet: ‘As jou drome jou nie bang maak nie, is dit nie groot genoeg nie.’
Om ‘n individualis te wees is vir my ‘n belangrike karaktertrek. Tydens die opedag het dit vir my uitgestaan dat ek by Middies self kan besluite neem en keuses maak, maar ook die gevolge daarvan moet dra.
Om jou beste te gee is goed genoeg en deelname is belangrik. Elke individu is iemand en elkeen se talente word raakgesien.
Akademie is ‘n prioriteit by Hoërskool Middelburg, die personeel is bekwaam en natuurlik is die wi-fi ‘n bonus. Sonder dissipline kan ons nie funksioneer nie en aangesien MHS ‘n waardegedrewe skool is, is die dissiplinebeleid aangepas ten opsigte van vandag se tye.
Ek is ‘n voorstaander van kreatiewe denke en vryheid met perke. Ek weet dit is wat ek by Middies as ‘n leerder gaan ervaar.
By Hoërskool Middelburg word ‘n gesonde omgewing geskep waar jy net jouself kan wees, waar jy jou drome vrye teuels kan gee en waar jy boonop toegelaat word om vrae te kan vra.
Ek is ‘n trotse amper MIDDIE en kan nie wag om in groen en goud 2018 in die oë te kyk nie.”
Zoé het reeds haar Middie-skoolklere gekoop en sê sy sien met groot opgewondenheid uit na die uitdagings en avontuur hier by MHS.
Nóg ‘n gr. 7-leerder wat besluit het om in 2018 deel te word van die Middie-familie is Barend Kurpershoek. Hy is ‘n gr. 7-leerder by Laerskool Middelburg. Sy groot oorweging om in groen en goud sy hoërskoolloopbaan aan te pak, was hokkie. Barend deel die volgende met Die Rissiepit.
Barend Medium“Hokkieskool … Hier kom ek!
Junie 2016 ... ons oefen hokkie. Skielik is ‘n vreemde oom ook by ons. Hy gaan ons nou afrig. Maar ... hy lyk so kwaai. Hoe gaan ek dit ooit weer geniet om hokkie te speel?  Min het ek besef dat dit juis hý is wat gaan sorg dat Middies my gunsteling hoërskool gaan word. En wie was die vreemde, kwaai oom? Natuurlik oom Coena!
Met MHS se opedag het ons groep gelukkig gou by die mini-astro gekom. En nee, dit was nie klein astro’tjies om te eet nie ... dit was die HOKKIE-astro waar ons bietjie ‘skills’ kon oefen. Nóú het ek finaal besef: Hier, by Middies en oom Coena, wil ek wees!
Maar om my so bietjie bang te maak – want ‘n graad 8 moet mos nederig in die skool inkom – het die leiers ons Spookhuis toe gevat. Die musiek was ‘freaky’! Nog nooit het ek so vinnig deur elke hoekie van die binnenshuise krieketnette gehardloop nie. Selfs nie Willem (my ouer broer) in sy slegste bui het my al so laat spaander nie.
Om te kyk of ons reaksies vinnig genoeg is om as Middie te kan klassifiseer, is ons MSSI toe gevat. Daar het ons saam met al ons vyande deelgeneem aan aktiwiteite en skielik besef: Dit gaan mos lekker wees om volgende jaar in Middieland selfs met Kragbron-manne pêlle te wees! En net om seker te maak dat ons nie die Kragbron-meisies vergeet nie, het ons lekker die aand kon sokkie!
Wat begin het as ‘Ek-gaan-Middies-toe-want-my-boetie-en-sussie-is-daar’,  het met oom Coena en die opedag geword ‘Ek-gaan-beste-hokkieskool-toe-om-die-lewe-ook-met-nuwe-vriende-saam-te-ontdek’!  Nou kan ek nie meer wag om groot-groot-skool toe te gaan nie. Middies ... hier kom ons!”

In memoriam

Diederick MediumDeur Engela Volschenk

Op 16 Maart 2017 is een van Hoërskool Middelburg se gr. 11-leerders, Diederik Erasmus, in ‘n fratsongeluk oorlede. Saam met hom in die motor was nog drie ander klasmaats. Ons betreur sy afsterwe, maar in baie se harte sal al die mooi herinneringe aan ‘n geliefde klasmaat nog voortleef. Die dag voor die ongeluk het Diederik saam met sy registerklas uitbundig deelgeneem aan die Kaskardag by die skool. En dit is hoe hulle hom sal onthou. Monica de Lange is een van die maats wat ook in die ongeluk was. Sy het die volgende briefie aan Diederik geskryf en toestemming gegee dat Die Rissiepit dit (onveranderd) mag plaas.
 
“Liewe Diederik
Jy was nou eenmaal ‘n mens duisend. Die bewys daarvan is die merk op my en nog baie ander mense se harte. Dit is oomblikke soos dié dat ek dankbaar is vir herinneringe. Herinneringe van ‘n groep maats wat in die modder speel, in damme swem en uiteindelik saam leer en die dag as die herinneringe in ons harte se damme val en die water by ons oë uit spat, troos ons onsself daaraan dat jy nou saam met Jesus visvang. Ek weet as dit van mense afgehang het sou jy nog by ons gewees het, maar dit doen nie. Ons verstaan nie dalk nou nie en ook nie hoekom nie. Al wat ons aan glo is dat dit deel was van ‘n groter plan. Jy lewe voort in nog baie mense se harte. Tot ons paaie weer kruis, belowe ek dat jy nie vergete sal wees nie. Dat jy tot in lengte van dae in my en baie ander mense se harte sal kampeer.
Tot ons mekaar weer sien in die ewigheid. Baie liefde.
Jou vriendin Monica en al jou maats”