Groen vennote

Groen Vennote

Oud-Middies stap terug in tyd met reünienaweek

MHS Blyspel 2018 100 MediumDeur Engela Volschenk

Hoe ouer jy word, hoe meer soek jy die mense op wat iewers in jou lewe ‘n oomblik, ‘n dag, ‘n maand, ‘n paar jaar saam met jou gedeel het. Mense wat dieselfde voel oor dit wat was.
Soos ‘n mens ouer word, word jou kindwees kleiner en kleiner. Staan jy voor jou drome, jou vingers uitgestrek en probeer jy jou kindwees weer aanraak. Maar dit is of jou vingers nie weer jou drome kan aanraak nie. Hulle bly weghardloop van jou wat dit weer wil opvryf, blinkvryf, waar maak. Al is dit net om hulle weer een maal styf vas te hou en weer te beleef.
Met die reünienaweek van 1 - 3 Junie was daar heelwat oud-Middies wie se gedagtes gehardloop het op paaie van lank terug. Hulle lewe het weer kiekie vir kiekie in hulle koppe getrajek en hulle gedagtes was deurtrek met hulle skooldae hier by Middies.
Die naweek het afgeskop met ‘n optog waaraan die matrikulante en eerstespanne deel gehad het. Vir hulle was dit bloot ‘n pretrit deur die dorp, maar later sal hulle terugkyk en besef dat dit tog ook ‘n hoogtepunt is van hulle skoolherinneringe.
Vrydagaand was Voorspoedsaal die kuierplek van 140 gaste met ‘n kaas en wyn skemerkelkie. Izak du Plessis, oud-Middie en deesdae radio-omroeper en skrywer, was die gasspreker. Tannie Stoffelien Coetzee het, soos gewoonlik, die dekor en tafels met haar kunstige hand en fyn sin vir detail omtower tot ‘n lus vir die oog. Daar is tot die vroeë oggendure staaltjies van “onthou jy nog” gedeel.
Tydens die 50-jaar feesvieringe in 1968 het Middelburg Hoërskool en Oos-Moot kragte gemeet. Nou, 50 jaar later, speel Middies weer teen Oos-Moot – hierdie keer op MHS se tuisveld as deel van die eeufeesvieringe.
Saterdagoggend het die houtdek gekreun onder heerlike eetgoed met die reünie van oud-Middie kollegas. Jare van skeiding het weggeval en kollegas het soos een groot familie saam gekuier, gelag en spesiale oomblikke van gister gedeel.
Later die oggend het die skoolgrond gewemel van trotse oud-Middies. Oral het groepies gestaan en gesels oor vervloë dae. Toe daar foto’s voor die hoofgebou geneem is van die verskillende matriekjaargroepe, het ‘n groep spontaan die skoollied begin sing. Wynand Claassen het as dirigent opgetree en hierdie klanke het rimpelings van onthou deur die skoolgange gestuur.
‘n Groep oud-Middies het besluit om terug te stap in tyd en die skool te verken. Só het baie stories weer lewe gekry. Daar is te veel om te vertel, maar een kattekwaad waaroor daar baie gelag is, is die verhaal van die twee seuns wat ‘n piepiepot bo-op die vlagpaal staan gemaak het. Die raaisel van wie dit was, is nooit opgelos nie. Maar met sy toestemming, mag Die Rissiepit nou publiseer dat een van dié kwajongens Sybrand Botes was.
Sybrand se verbintenis met Middelburg Hoërskool strek darem nie net tot by kwajongstreke nie. Sy matriekjaargroep het die skoolwapen wat vandag nog bokant die verhoog in die saal pryk, as geskenk aan die skool gegee. Sybrand se pa was die kunstenaar wat dié pragstuk gemaak het en Sybrand self het sy pa daarmee gehelp.
Nog ‘n storie wat die verbeelding aangryp, is dat die seuns destyds perskes gaan steel het en dit dan skelm vir die meisies in die koshuis gevat het – natuurlik met die hoop om die meisie se hart te steel. So word daar toe vertel van ene Charlotte van Heerden (Prinsloo) wat dié dag saamgegaan het om perskes te steel. Die predikant (sy naam word verswyg) was glad nie beïndruk met dié vrugtediewe nie en het op hulle losgetrek. Charlotte is raakgeskiet in die been. Maar omdat hulle skelm uit die koshuis geglip het, moes hulle maar stilbly oor die hele debakel.
Tydens die reünienaweek het Sybrand en Isabé (Loots) Botes met bonsende harte voor juf. Marike Jonker se klas gestaan. Hulle is “high school sweethearts” en onthou hulle eerste soen asof dit gister was – in die huidige dramaklas. Daar is vinnig gereël dat die klas oopgesluit word en dit was so spesiaal om hierdie kosbase oomblik met hulle te kon deel toe Sybrand sy geliefde Isabé weer in sy arms neem. Isabé was in standerd 7 (gr. 9) toe hulle “gekys” het. Sy het in 1965 matriek geskryf en is met Sybrand getroud in 1967.
Isabé se suster is Marita. Hoewel hulle nie ewe oud is nie, was hulle saam in matriek. Marita onthou veral mnr. Birkhorst se Latynse klasse en hoe ongemaklik sy gevoel het om mondeling te praat terwyl die seuns heeltyd onderlangs gefluister het. Tydens die reünienaweek hoor Marita toe by Philip Schlebusch dat die seuns hulle verkyk het aan haar mooi bene en onderlangs daaroor gepraat het!
En so is baie stories vertel terwyl die oud-Middies hulle gisters probeer blinkvryf het. Later die middag is daar verder gekuier om die braaivleisvure en Sondagoggend is die naweek gepas afgesluit met ‘n erediens wat deur ds. Anton Kemp in die Witkerk gelei is.
Soos wat die tyd tydens die reünienaweek al hoe vinniger getiek-tok het, het elke oud-Middie gehoop dat gister nie te ver agter sal raak nie, dat vandag hulle mooiste en lekkerste dag sal wees en dat môre en oormôre nie te veel grys in hulle hare sal bring nie.

Middies se Eeufees-matriekpaartjie

DSC 0307 MediumTydens die reünienaweek het Die Rissiepit besef dat een van jou lekkerste herinneringe aan jou skooldae, jou eerste liefde is. Daarom het die redaksie mooi gaan dink oor wie hierdie jaar as die “eeufees-matriekpaartjie” aangewys kan word. Daar is gedink aan Thomas Knight en Helena de Villiers. Christiaan Bezuidenhout en Monica de Lange. En ook Dean de Beer en Lize-Marie Hoogenboezem. En toe is daar besluit op Vickus Smit en Chanél de Wet. Hoekom? Lees die onderhoud met hulle en dan sal jy self hierdie vraag kan beantwoord.
Van wanneer af is julle saam?
Ons het in gr. 7 begin uitgaan en toe vat ons ‘n breuk in gr. 8 om die hoërskool gewoond te raak. Toe vind ons mekaar gelukkig weer in gr. 9. So tegnies is ons nou al vyf jaar saam.
Chanél, hoe het Vickus jou gevra om sy meisie te wees?
In gr. 7 het ons die saal reggemaak vir ‘n funksie en toe steek Vickus al ons vriende op om my op die verhoog agter die gordyn te kry. Dit is waar hy my skaam die eerste keer uitgevra het. In gr. 9 het ons gesels oor ons vriende wat sê ons maak ‘n oulike paartjie en toe het hy terugverlang en gevra of ek weer sy meisie sal wees.
Vickus, hoekom het Chanél jou oog gevang?
Daardie baie mooi bruin oë van haar het my hart gesteel.
Chanél, om watter rede het jy “ja” gesê?
Ek weet nie… Ek neem aan my hart was maar nog altyd syne.
Vickus, wat maak dat Chanél die perfekte meisie vir jou is?
Sy is slim. Baie mooi. Sy het ‘n “awesome” persoonlikheid en sy laat nie enige iemand oor haar loop nie. Sy is ook die enigste meisie wat my op my plek sit.
Chanél, hoekom is Vickus die perfekte ou vir jou?
Hy is só geduldig met my en kyk so mooi na my. Ek mag sy kos eet as syne in die restaurant lekkerder is as myne. Hy gee my so baie “butterflies”. Hy is my “human diary”. Hy sien die beste in my. Hy ondersteun my en hy is my beste maatjie. (En ek het hom om my pinkie…)
Baklei julle soms en waaroor?
Ja, natuurlik! Maar ons verkies om dit eerder “stry” te noem. Dit is meestal oor ‘n misverstand en dat Chanél moet besluit wat sy wil eet sodat sy nie my (Vickus) se kos eet nie.
Wie sal gewoonlik eerste vrede maak?
Vickus, want Chanél is baie hardkoppig.
Wat maak dat julle verhouding so lank kon hou?
Want ons is beste vriende en ons het baie pret saam.
Watter uitdagings word daar in vandag se tyd aan julle as ‘n paartjie gestel?
Die grootste uitdaging is seker om genoeg kwaliteit tyd saam te spandeer en om nie verveeld te raak met mekaar nie.
Vickus, wat beplan jy om volgende jaar te doen en hoe pas Chanél en julle verhouding hierby in?
Ek gaan werk en deur die pos studeer. Dan kan ek naweke saam met haar kuier.
Chanél, wat gaan jy volgende jaar doen? Wat dan van jou en Vickus?
Ek gaan studeer by Tuks. Dit is naby genoeg om hom op af dae te sien en naweke kan ons ook kuier.
Wat doen julle gewoonlik as julle saam is?
Ons ontspan. Gesels, speel, fliek of haal verlore slaap in.
Waar was julle lekkerste vakansie saam en hoekom?
Ons was saam Durban toe vir Megan se prestige gala en ons het na die tyd Ushaka toegegaan en saam gesnorkel en op die glybane gegaan. Toe verras Chanél my met ‘n nuwe Sharks rugbytrui en sê ek moet hom mooi bêre, want Saterdag gaan ons Kings Park toe vir die Sharks se wedstryd.

Eeufees-boodskappe

Met Middie-guts kan jy enige struikelblok oorwin

Nanet MediumDeur Deon van der Merwe

Leandi en Nanet van der Linde is twee sussies wat albei hoofdogters was by MHS. Leandi skryf in 2013 matriek en Nanet in 2016. Hulle boodskap aan Middies is: “Dit is ‘n voorreg om na skool te antwoord: ‘Ja, ek was in die groen skool in Middelburg.’ Ons is die tweede generasie wat Hoërskool Middelburg ons huis kon noem.

Dankie vir elke onderwyser, oud-Middie en huidige Middie vir die impak wat julle in ons lewens gehad het. Dankie vir die wonderlike sport en kultuur herinneringe.

Die waardevolste lesse van Middies wat ons tot vandag gebruik, is dat jy met Middie-guts enige iets kan oorwin en dat jy regtig herinneringe nie kan koop nie, want ‘Only Middies know the feeling’.

Dié skool het ons gevorm in die dames wie ons vandag is. Mag jy ook smeebaar wees dat MHS jou ook kan vorm.”

Geloof en plig is deel van Schoeman-broers se Middie-herinneringe

Schoemans MediumDeur Engela Volschenk

Dawie en Johan Schoeman is twee broers wat albei hoofseuns was by Middelburg Hoërskool. Dawie het in 1994 matriek geskryf en van hom onthou die onderwysers dat hy só slim was dat sy IK nie gemeet kon word nie. Hy het dan ook medies gaan studeer en in trauma gespesialiseer. Hy is tans ‘n mediese dokter in Kaapstad. Johan het in 1996 gematrikuleer en het sy M-graad in sielkunde verwerf. Hy is al ingeburger in Taiwan en is die akademiese koördineerder by D.I.S. in Taipei.

Dawie deel die volgende boodskap met MHS: “Daar is vyf spesiale jare in die lewe van ‘n selektiewe groep bevoorregte mense. Vyf onvergelykbare, onvervangbare jare waarna elkeen uitsien met gelyke mate van opwinding en vrees.

Wanneer die tyd aanbreek, voel elkeen soos ‘n onbelangrike druppel in ‘n massiewe oseaan, maar met tyd en koestering groei die besef dat almal hulle eie unieke bydrae lewer, tesame met menige ander “druppels” wat saamvloei tot ‘n magtige vloedgolf wat deur enige versperring en oor enige hindernis kan druis.

Dié selektiewe groep mense is Middies, waarvan ek bevoorreg is om ook een te wees.

Die meeste van ons kry vyf onvergeetlike jare om die kruin van hierdie Middie-golf te ry, waarna ons lewens voortgaan. Waar ons ookal opeindig, hou ons aan om saam met Middie-onnies en -ouers die volgende generasie aan te spoor.

As jy nou hier is, geniet jou tydjie op die kruin. Want vyf jaar is kort. Gelukkig duur Middie-herinneringe vir ewig!

Geluk en beste eeufeeswense van ‘n Kaapse Middie!”

Johan se boodskap: “Sjoe Middies! Ek het 22 jaar terug klaar gemaak met skool, maar die Middie-bloed vloei nog sterk deur my are. In die afgelope jaar het ek die voorreg gehad om Middies weer te besoek. Alhoewel die meeste van die gesigte verander het, was ek verstom oor hoe alles nog dieselfde lyk en hoe vinnig die alomteenwoordige Middie-gees ‘n indruk op my buitelandse familie gemaak het. 5% is al wat ek kon kry van die 100 jaar wat Middies mense se lewens aangeraak het, maar ek het met soveel meer as 5 % die skool verlaat. Ek moet bieg, ek kan nie veel van my lesse onthou nie, maar ‘Geloof en Plig’ is deel van my wese. Ek sluit af met dankbaarheid teenoor my ouers en onnies vir die onderrig wat ek ontvang het, maar bowenal dank ek Koning Jesus vir al die seëninge. Sjoe Middies! My borsbeen jeuk! Groete vanaf Taiwan.”

Dr. Nadine (Steenkamp) Jooste kom uit ‘n familie met ‘n groen bloedlyn

IMG 20181108 WA0019 MediumDeur Deon van der Merwe

Hoërskool Middelburg spog graag met dr. Nadine (Steenkamp) Jooste as ‘n oud-Middie. Sy het in 2003 gematrikuleer en was ook hoofdogter gewees. Haar twee susters, Janita (Steenkamp) Wheeler en Yolandi (Steenkamp) Botha, is ook oud-Middies. Maar die groen bloedlyn gaan nóg verder, want beide haar ouers is ook trotse Middies. Hulle is Anita (Meyer) Steenkamp en Jan Steenkamp. (Pa Jan-hulle was vier kinders en hulle is ook almal Middies.) Dr. Nadine skryf die volgende in ‘n boodskap aan Middelburg Hoërskool: “19 jaar gelede het ek my hoërskoolloopbaan by Middies begin. Dit was die begin van 5 jaar gevul met avonture, lag, harde werk, Middie-guts en groei as mens.

Met ‘n span hardwerkende onnies en mnr. Stronkie aan die stuur van sake, was dit 5 jaar wat my as mens gevorm het en voorberei het vir die volwasse wêreld en sy uitdagings.

Dit was van die lekkerste tye met die kosbaarste herinneringe. ‘n Sorgvrye fase van my lewe – tye op die sportveld waar ons as spanne presteer en mekaar ondersteun het en selfs die tye van woeker in die klaskamer om ons boublokke vir die toekoms in orde te kry.

Baie geluk Middies met die groot mylpaal – 100 jaar! En dankie. Dankie vir al die kosbare herinneringe wat ek altyd sal koester. Dankie vir julle bydrae tot die mens wat ek vandag is. Mag julle net soveel kinderharte aanraak in die volgende 100 jaar as wat julle reeds gedoen het. Mag julle ook groei in geloof en plig."

MHS leer Jan-Hendrik van der Westhuizen om homself te vind

Deur Engela Volschenk

Jan Hendrik vd Westhuizen 036 Medium

Jan-Hendrik van der Westhuizen is ‘n oud-Middie met wie ons breëbors spog. Hy het sy droom gevolg en twee restaurante, Jan en Maria, in Nice, Frankryk oopgemaak. Hy is ook die eerste (en enigste) Suid-Afrikaner wat met ‘n Michelin-ster kan spog. Hy glo dat dit belangrik is om nie te vergeet waar en hoe jy grootgeword het nie. Daarom is hy steeds ‘n trotse Middie wat sê dat Middelburg Hoërskool hom geleer het om homself te vind. “MHS het my geleer om myself te wees. Whatever you are, it is okay. Wees net jouself, al is dit ‘crazy’,” het hy vroeër die jaar in ‘n onderhoud met Engela Volschenk gesê. “Hier by MHS het ek ook besef dat my toekoms in kosmaak lê. Daarom was my gunsteling vak gasvryheidstudie en spyseniering. I used to bank maths class and go to hotel and art. I wasn’t really good at art, but I just loved that one hour of expressing myself.” Oor wiskunde sê hy die volgende: “I am more a drama person. I dropped maths and physics as soon as I could. But yes, maths teaches you problem solving.”

Wat ‘n voorreg om die volgende boodskap van Jan-Hendrik te kry: “Liefste Middies. Soos baie van julle al gehoor het, maar min dit eintlik besef, is dat jou 5 jaar by Middies so vinnig verby gaan. Dit is die waarheid. En voor jy weer weet, is jy in ‘n bedryf en lewe jy jou droom. Die belangrikste van alles is dat jy NOU AL jou droom moet vas maak. Al is dit hoe ‘ridiculous’! Lewe dit uit. Volg jou hart en wees net jouself. Mik vir die maan. Want dan val jy op die sterre.”

Middies is deel van Wilke-harte

IMG 20181113 WA0005 Medium Deur Deon van der Merwe

Juf. Annemarie Wilke het haar man hier by Middies ontmoet en sy is steeds ‘n volbloed Middie. Haar drie kinders se harte klop ook steeds in ritme met Middelburg Hoërskool. Lindre skryf matriek in 2007 en was onderhoofleier sport. Pieter en Angelique matrikuleer in 2012. Pieter is onderhoofleier akademie en Angelique is onderhoofleier sport. Hulle boodskap met MHS se eeufeesjaar is: “Middelburg, letterlik ‘ons’ eie. Van skool-skool speel in moeder se klas tot lewenslange vriende maak en herinneringe wat ‘n leeftyd sal bly. Al vir die laaste 24 tot 29 jaar is Middies ‘n deel van ons Wilke-harte wat voortspruit uit Ma en Pa se voetspore. Baie geluk Middies met julle 100 jaar. Dankie dat ons van ons eerste woord af die skoollied kon saamsing en deel kon wees van ‘n emmer vol tradisies. Middies, ons salueer jou!”

Louise en Engela Volschenk sien MHS as ‘n ‘skool van daad'

DSC 6198 MediumDeur Deon van der Merwe

Louise en Engela Volschenk was albei redakteurs van Die Rissiepit. Louise matrikuleer in 2016 en sy was onderhoofleier kultuur. Engela is hierdie jaar in matriek en is onderhoofleier akademie. As redakteur onthou hulle dat die proses van redigering van al die berigte ‘n tydrowende proses was en dat die toepassing van spelreëls ‘n ander betekenis gekry het.

Hulle boodskap aan Middies is: “As huidige en oud-onderhoofdogters en redakteurs van Die Rissiepit, is dit ‘n eer om ons skool geluk te wens met sy 100ste bestaansjaar. Hier by Middies het ons geleer om elke dag volgens ons skool se leuse te leef – Fide et Officio. Oor die afgelope 100 jaar is Middies se fondasie op geloof gebou en by elke leerder word die saadjie geplant om daagliks hulle plig na te kom en om hulle vertroue op die Here te plaas. Ons kan met trots en heimweë terugdink aan al die mooi herinneringe hier by MHS. Dit is beslis ‘’n skool van daad’ wat ‘n groot invloed gehad het op ons karakter.”

Du Toit-familie is sinoniem met Middelburg Hoërskool

IMG 20181108 WA0022 Medium Deur Engela Volschenk

Die Du Toit-familie van Middelburg is ou bekendes en groen bloed pomp sterk deur hulle are. Danielle was ‘n leier in 2011, Nefdt was onderhoofleier sport in 2015 en Alexa is hierdie jaar onderhoofleier kultuur. Maar hier stop die verbintenis met Middelburg Hoërskool nie. Pa Piet is een van vyf kinders en hulle almal was ook in MHS. En ma Ronel is ook een van vyf kinders en hulle was almal in Middelburg Hoërskool. Voeg daarby al die niggies en nefies wat ook in MHS was en is en die Du Toits is sinoniem met MHS.

Danielle onthou matriek as ‘n hoogtepunt in haar skoolloopbaan. Wat veral uitstaan, was die blyspel Van Mozart tot Parow. In die kunsklas het sy geleer om kreatief te wees en as dirigent het sy die Middiegees wild en wakker gehou. Sy sê dat hulle altyd trotse Middies sal wees wat hulle alma mater se naam hoog sal hou.

Eeufees-matriektweelinge

Tweelinge Medium

Daar is hierdie jaar sommer drie tweelinge in matriek. Agter: Sam en MK Khumalo. Voor: Chrizelle en Cherise Fryer. En Monica en Jessica de Lange.

Juf. Hanlie Potgieter kyk terug op 36 jaar by Middelburg Hoërskool

L4206732 MediumDeur Engela Volschenk

Juf. Hanlie Potgieter is al sinoniem met Middelburg Hoërskool. Hoe dan ook anders – sy is al vanaf 1982 ‘n personeellid hier by Middies. Sy sê dat baie mense reken dat dit na tien jaar tyd is om van werk te verander en dat geen mens so lank op een plek moet bly nie. Volgens haar het dinge verander sonder dat dit nodig was om van werk te verander – sy het onder verskeie hoofde gewerk en dit het gesorg dat dinge nooit dieselfde was nie.

Mnr. OPJ Nel was skoolhoof vanaf 1976 – 1992. Juf. Pot onthou hom as ‘n statige man. Regop . Trots. En baie kwaai. Maar ook innoverend, ‘n ontwikkelaar en ‘n voorpos denker. Toe ander skole nog blou wasvelle met die hand geskryf het vir afroldoeleindes, het MHS reeds ‘n kopieermasjien gehad wat direk fotostate kon maak en vraestelle in pakkies kon sorteer – gereed vir elke leerder. By mnr. Nel het juf. Pot geleer dat dit die beste is om die waarheid te praat as jy in die moeilikheid is. Erken eerder as jy ‘n fout gemaak het en stel dit reg. Sy gunsteling gesegde was: “Give a dog a bad name and he lives up to it. But pat him on the head and he licks your hand.”

Die volgende hoof onder wie sy gewerk het, was mnr. CP Viljoen. By hom het sy geleer om tyd te spandeer aan beplanning, want dit spaar jou vorentoe baie tyd. Sy gunsteling gesegde was: “Smile Middies, die Boereoorlog was baie erger.” In die 75 jaar gedenkblad word die volgende geskryf oor mnr. Viljoen: “Mnr. Viljoen is ‘n veelsydige onderwysman, soos blyk uit sy betrokkenheid by sport en kultuuraangeleenthede.” Sy liefde vir geskiedenis het nooit getaan nie. Vandag is hy die bedrywige eienaar van RP Stoffeerders in Middelburg.

Vanaf 2000 het mnr. Johan Stronkhorst die leisels by MHS oorgeneem. Dit is baie gepas – ‘n nuwe hoof vir ‘n nuwe millennium. Almal het or Y2K gewonder en of sou die lewe soos almal dit geken het tot stilstand kom omdat rekenaars nie die jaartal “2000” verstaan nie.

Juf. Pot sê die volgende oor haar nuwe hoof: “Toe kry ons mnr. Stronkie. Alhoewel hy in die stad grootgeword het, het hy mens geword op Kovsies – iemand wat die platteland verstaan. (En hierdie is vir my moeilik om te erken, want ek is ‘n PUK.) Hy glo nog dat mans mekaar groet met ‘n stewige handdruk. En ek word juf. 'Hanlie' – weg met die formele 'juf. Potgieter'. Hy het ‘n gemaklike bestuurstyl. Hy is ‘n omgee-mens. ‘n Mens-mens. Hy vrolik ons oggende op in die personeelkamer met ‘n grappie of twee. Hy gee om vir die kinders en vra altyd wat sal die beste besluit wees in belang van die kind.”

By mnr . Stronkhorst het juf . Pot geleer dat baie probleme met ‘n tikkie humor daarby opgelos kan word. Sy gunsteling gesegde is natuurlik : “You can not buy memories, you have to live them.”

En nou staan ons aan die einde van 2018 – Middies se goue 100 jaar! Om eerlik te wees, ons het so baie verjaardag gehou dat almal al bietjie moeg is na hierdie 100ste jaar. Juf. Hanlie Potgieter kyk terug op die jaar en onthou: “Miskien onthou jy die saalopening in Januarie: R100 vir 100 jaar. Ons het gepraat oor energie; dat jy met elke voetspoor wat jy trap energie aan die skoolterrein oordra. Hoeveel spore het jý getrap? Ek hoop dat dit op jou oudag kosbare herinneringe gaan wees. Vir my is baie daarvan reeds…”

Wynand Claassen trap diep spore by Middelburg Hoërskool

Deur Deon van der Merwe

Neil en Wynand Medium

Wynand Claassen se pa, George Claassen, was skoolhoof by Middelburg Hoërskool vanaf 1954 - 1969. Wynand self was hoofseun van MHS in 1968. Middies is veral trots op Wynand wat die Springbokrugbyspan as kaptein gelei het in 1981. Wynand skryf die volgende in ‘n brief aan Middies:

“Middies is ‘n volle honderd! En ‘n honderd jaar is meer as ‘n leeftyd! Só baie mense was deel van hierdie skool … en nou al lankal dood. Over 100 years the school has given huge strides in delivering great achievements in academic and cultural fields, as well as on the sports fields. Groot name het deur hierdie lokale en skoolgange geloop. Hulle dampkringe was hier en is steeds hier – tussen die bakstene en die klaskamers, op die sportvelde en in die koshuise …

Die ou skoolgebou het ál hierdie dampkringe oor die jare bewaar en gekoester – en is die enigste wat ál die stories ken en geheim hou …

Almal wat in 2018 verbonde was aan Middies, is nou deel van hierdie geskiedenis. En daarom is Die Rissiepit ook nou deel van ‘n stukkie geskiedenis en mag dit groot stories voortbring. Baie geluk aan almal by Middelburg Hoërskool wat gehelp het met die reëlings vir die naweek se gebeure rondom die 100-jaar reünie van die skool. En baie dankie dat ons as oud-leerlinge ook deel kon wees van ‘n wonderlike naweek.

Dit was weereens ‘n wonderlike ondervinding om ‘n tydjie by ons alma mater (waarvoor ons almal ‘n baie sagte plekkie het) te kon spandeer. Dit was goed om ou herinneringe op te roep, om weer nostalgies te kon raak, maar ook om te ervaar hoe die skool deesdae die nuwe uitdagings van die tye aanspreek en ‘n sukses daarvan maak.

The Reunion Weekend once again proved that Middelburg High has established an unbelievable and unique tradition over 100 years. This tradition needs to be nurtured and protected with all we have got and to be built out to something huge for the next 100 years.

Beste groete Wynand"

Eeufees Loodskomitee

image001
Loodskomitee fotos 4Die Eeufees Loodskomitee

Foto's: Eeufeesnaweek

OUT AND ABOUT AT MHS : REUNION WEEKEND After all was said and done, a spectacular cheese and wine the evening before, a full morning of sensational rugby and a friendly hockey match, it was time to relax and unwind beside the braai fires, and at the newly built rugby clubhouse. Ou vriende het weer bymekaar gekom om die goeie ou dae te onthou en op te maak vir verlore tyd. Nuwe vriendskappe is gestig tussen oud, jonk, ouers en oud-onderwysers. Dié eeufees reünie-naweek is definitief een om te onthou!


Foto's: Eeufeesnaweek - Kaas en wyn

Middies se kaas en wyn Eeufees Reünie funksie Vrydagaand, 1 Junie 2018 was 'n wenner! Wenner kaasborde, wenner wyn en wenner tafels. Voorspoedsaal was die kuierplek vir 'n 140 tal gaste wat tot in die vroeë oggendure staaltjies van "onthou jy nog" gedeel het. Net een woord kan dit beskryf..."SPECTACULAR!"

Foto's: Eeufeesnaweek - Oud-onderwyserstee

SAMEKOMS OP DIE HOUTDEK “My wêreld, kyk wie kom hier aan!” … Dit is die woorde wat Saterdag op die houtdek weergalm het met die reünie van oud Middie-kollegas! Groen bloed het van 10:00 weereens deur ons are gebruis. Middies se houtdek het gekreun onder die lekker saamkuier van kollegas van toeka tot nou. Soos enige reünie was dit suiwer lekkerte om ou gesigte te sien en ou stemme te hoor. Die opgewondenheid was byna tasbaar met elke nuwe persoon wat vol verwagting op die houtdek saamgedrom het. Jare van skeiding het weggeval en ons het weereens soos ‘n familie gevoel. Ons gaste is getrakteer op heerlike eetgoedjies, warm drinkgoed en hartlike gasvryheid. Voorwaar nog ‘n suksesvolle samekoms om op ons Eeufeeskalender af te merk! GO MIDDIES!!

Foto's: Eeufeesnaweek - Skooltoer

A MORNING OF REMINISCING “Your memory feels like home to me. So whenever my mind wanders, it always finds it’s way back to you.” ― Ranata Suzuki Verversings en tee was saam geniet in die personeelkamer na 'n spesiale kerkdiens in die Witkerk. High school sweethearts remembered where they first kissed, where the old library used to be and about the good 'ole times with Mr George Claassen. Special moments were shared between old friends before saying their goodbyes after an unforgettable reunion weekend. Those who shared in the morning were truly touched by the special bonds, loyalty and pride for a school who gave them the best years of their lives and will always hold a special place in their hearts. Until we meet again!

Oudste matrikulante wat eeufees bygewoon het

1945.49 oudste Marikulante Medium

Oud-Middies tussen 1945-1949 wat die eeufees bygewoon het, weer bymekaar.

Spesiale besoek vanaf Mnr. Minnaar

IMG 20180726 WA0004 Medium
Mnr. Jan Daniël Minnaar wat in 1940 by MHS gematrikuleer het, het 'n spesiale besoek by Middies afgelê. Hier oorhandig hy 'n lapelwapen aan Mnr. Stronkhorst as geskenk.

Matrieks 1965 - 2015 Reünie

2015 FotosCheryl 120Groep

Matrieks 1965 - 50 jaar reünie boodskap van MHS

Matrieks 1965
BOODSKAP VAN MHS AAN MATRIEKS VAN  1965

Met heimwee, trots en ook ‘n traan, gaan ons saam met julle 50 jaar terug –
Toewyding, opoffering, vormingswerk – 
so het jul gebou aan Middies se rotsvaste burg.
Op sport- en kultuurgebied
het jul toe reeds met ‘n oorwinningspyl geskiet.
Ons onthou saam jul die atletiekspan se drie oorwinnings so soet –
Pat Fletcher en René du Toit kon darem skop met die voet.
Eerste krieketspan seëvier as Noord Transvaal kampioen
Dring deur na eindstryd om Tranvaal Administrateursbeker  in goud en groen.
In tennis onthou ons vir Louisa Coetzee
Sy kon as enkelspelkampioen van die dorp sowaar ‘n kishou gee.
Volkspele, vasvra en kadette was ‘n fees
Alles onderneem in ‘n Groot Middie-gees.
Jul hoof Mnr George Claassen het dit toe al so mooi opgesom:
God who has placed a torch in our hearts that glows with knowledge and beauty, it is a sin to extinguish that torch and bury it in ashes.  Middies torch still glows with knowledge and beauty ……
“Mag ons nie slegs die goeie saad saai nie, maar ook toesien dat die saad ontkiem en groei …” 

Middies het ontkiem en gegroei waar ons nou in 2015 met dankbaarheid kan terugkyk na:
‘n Leerlingtal van 1026 waar Afrikaans 818 en Engels 208 is.  
Still glowing ….. still growing.
60 Onnies – poets, skaaf en skuur
aan Middies se rotsvaste muur.

‘n Groot droom word met Mini Astrobaan verwesenlik
Wat Middies-talente sowaar op die “map”sit.
Ons verbeter en bou met die jare se stap   ………………
•    Binnenshuise krieketbaan
•    Muurbalbaan
•    Swembad nuut oorgedoen
•    Voorspoed eetsaal restoureer na spogsaal
•    Nuwe ingang in Walter Sisulustraat ontwerp deur Mnr. Wynand Claassen
………hierdie alreeds ‘n suksesvolle Middie-hap.

Op sportgebied laat Middies nie op hul wag:

Boodskappe van Oud-Middies

Wynand Claassen :

Middelburg Hoër het 'n ongelooflike geskiedenis en unieke tradisie van bykans 90 jaar. Daar het groot name op daardie banke gesit en wat diep spore op alle gebiede in die samelewing getrap het.

Dat die skool die laaste klompie jare vanuit 'n benarde posisie opgestaan het, het wondere vir die skool beteken. Deur toewyding en die regte besluite te neem, het die hoof en personeel weer begin om die tradisie te laat herlewe en met ander groot skole te kan kompeteer op alle vlakke.
Nou is die tyd om die tradisie na die volgende vlak te neem deur menige oud-leerlinge regoor die land te mobiliseer om 'n bydrae te lewer.

Estia Groenewald :
Everyone and everything is a brand. Be cautious how you manage your profile around people. Their perception is their reality. Wat kan ek sê? MIDDIES is ‘n “brand”! ‘n Spog-“brand”! Die “brand” wat “care” uitskree! ‘n Omgee-skool! Meneer Stronkie, adjunkhoofde, onnies en NATUURLIK die puik sportafrigters, dis julle wat die Groenmasjien laat rol! Dis hier waar talente geslyp word, waar ‘n gewone, gemiddelde sportman/ vrou se Godgegewe talente ontwikkel word en hulle na WENNERS transformeer! Hoe dan anders met sulke talentvolle, bekwame afrigters? By Middies word nuwe betekenis aan die woord guts gegee! Hier word Middie-Guts die nuwe “buzz-word”! Middies het in 13 maande, my gewone/ gemiddelde rugbyspelertjie getransformeer in ‘n provinsiale rugbyspeler! Jacques le Roux het in 2011 in die tweede rugbyspan gespeel. Onder die bekwame afrigtershand van Mnr Gert van der Westhuizen en Mnr Piet Bothma het Jacques die volgende prestasies behaal: PUMAS Akademie A, PUMAS O/19 A Curriebekerspan, AVS 7’s Bokkieweek – Speler van die toernooi, AVS 7’s Bokkiespan wat na Kenia getoer het EN Classic Clash 2012- Agterspeler van die wedstryd! Dis ook deur die puik afrigters te danke dat Jacques deel is van die NWU-PUK Rugbyinstituut en tans vir NWU-PUK O/21 span speel en in vele wedstryde aangewys is, as speler van die wedstryd! Dankie MIDDIES dat julle omgee en my kind in ‘n presteerder en wenner verander het! Dankie dat ons kan deel wees van die MIDDIES Brand!!

Stuur ons jou boodskap...

Ons sal graag wil hê dat alle oud Middies moet deel bly van die skool se gees en geskiedenis. Epos asb vir ons enige boodskappe wat ons dan op die bladsy kan plaas, sowel as enige navrae.

Adres waarheen boodskappe gestuur kan word:   This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

#weallbelong

ouma Piet en tannie Toi Frewin Medium

Me. Pieternella du Preez en me. Toi Frewin
Reünienaweek 2016… 11 tot 13 Maart 2016… ʼn Naweek vol herinnering. Dis ’n naweek wat ingestel is in afwagting op die skool se 100ste verjaarsdag in 2018. Reünienaweek is jaarliks ’n gesellige byeenkoms van oud-leerders en hierdie jaar was geen uitsondering nie: Trotse Middieharte - oud en jonk - het warm geklop.

Die naweek was ’n warboel van verrigtinge. Vrydagoggend het drie matrikulante van 1996, mnr. Nico Robertse, me. Marliese Beneke en me. Marieline van Deventer, hulle Middie-ervarings in die klasse met leerlinge gedeel. Later die dag in die saal het Leandé Kotze (onderhoofdogter 2006) die leerlinge toegespreek. Middies het geleer dat almal deel is van die Middie-familie en dat jy jou identiteit in Christus moet vind.

Vrydagaand kon elkeen deel in die pret met ʼn “wine and food pantry”. Jan-Hendrik van der Westhuizen, wat onlangs die Michelin Ster ontvang het, het sy nuutste boek bekendgestel.

Beide Vrydag en Saterdag het Middies se sportspanne teen Hoërskool Hugenote gespeel en is hulle heelhartig ondersteun.

Die Saterdagaand het die matrikulante van twintig jaar gelede, 1996, hulle eie funksie in die rugbyklubhuis gehad. Sondag, 13 Maart, is die pragtige naweek afgesluit met ’n erediens in die skoolsaal. Dit is waargeneem deur pastoor Letonea Barnard. Die boodskap was: “As jy geanker is in die krag van Christus, kan geen stormwind jou omwaai nie.”

Dwarsdeur die naweek was matrikulante van verskeie jare teenwoordig, onder andere 1963, 1964, 1966, 1976 en 2006. Die oudste (en wysste) oudleerling wat saamgekuier het, was me. Pieternella du Preez - met ’n volle 89 jaar se lewenswysheid!

Gedurende Reünienaweek 2016 is daar met Middiegees gekuier, gelag en gespeel. As Middies, of dit nou leerlinge, ouers of oudleerlinge is, weet almal: #weallbelong. Almal is deel van die groot, groen Middiefamilie.

Come back to your roots - Reünie

Middies hou jaarliks reünie ...

In 2018 vier Middelburg Hoërskool hul 100ste bestaansjaar!

En om die bal solank aan die rol te sit, het die skool besluit om jaarliks ’n reünie te hou sodat hulle reeds al die oud-Middies kan nader en betrokke kry.  Geen oud-Middie mag die feesvieringe misloop nie!

 Met só ryke geskiedenis, erfenis,  tradisie en historiese geboue, is dit heerlik om weer saam te kuier en te luister na al die staaltjies,  getuienisse en groot gebeurtenisse.  Nuwe vriende word gemaak, vriendskappe word gesmee en lang verlore vriende word weer opnuut ontdek. Middies se lewe draai om herinneringe … want ons leef dit! 

Die lekkerste van die afgelope reünie was die gevoel om te weet jy hoort iewers…van jonk tot oud het een ding in gemeen ...’n liefde, passie en hart vir Middelburg Hoërskool. ALMAL IS ’n MIDDIE!

Die reünie sal voortaan oor ’n volle naweek gehou word.  ’n Lekker kuieraand vir alle jaargroepe, saam sport ondersteun en kerkdiens die Sondag.

Hoe meer siele, hoe meer vreugde.  Hoop u sal elke jaar deel wees van die groot gebeurtenis! 

Kontak MHS vir enige navrae rondom die reünie.

Herinneringe word gelééf met reünienaweek

reunie Medium


Mnr. André Brandmüller.

Die naweek van 27 Februarie tot 1 Maart 2015, het ‘n klompie oudskoliere deel gevorm van ‘n nuwe tradisie – die jaarlikse Reünienaweek. In 2018 vier Middelburg Hoërskool hul 100ste bestaansjaar en om die bal solank aan die rol te sit, het die skool besluit om nou al te begin met ’n jaarlikse reünie sodat daar niemand is wat die 100 jaar-feesvieringe gaan misloop nie.

Ses oud-Middies het gedurende skooltyd met ‘n paar klasse kom praat en die leerders aangemoedig om te streef na hulle drome en altyd die beste in ‘n situasie te sien. Een van dié oudleerders is dr. Francois Jordaan wat in 1975 gematrikuleer het. Hy het al die pad van Kent in Engeland gekom om te vertel waar sy lewenspaaie oral gedraai het na matriek. Hy is ‘n tandarts van beroep. Lionel Cass, bekende boer in die Middelburgdistrik, se hele familie, selfs sy ouma en oupa, is oud-Middies. Nog ‘n oud-Middie wat met die leerders kom praat het, is mnr. Marthinus de Jager wat ook in 1975 gematrikuleer het. Hy is vandag ‘n geoktrooieerde rekenmeester.

Tydens ‘n spesiale saalopening later die dag het Ruan van der Merwe, hoofseun van 2005, ‘n inspirerende boodskap gelewer. Baie oudleerlinge het hierdie saalopening bygewoon. Die aand was daar ‘n spoggerige reüniedinee in Voorspoedsaal waar hegte vriendskapsbande weer hernu en gesmee is.

Vroeg die Saterdagoggend het die trotse oud-Middies die jonges op die sportveld ondersteun tydens die jaarlikse wintersport teen Ermelo Hoërskool. MHS het weereens bewys dat daar beslis rede is om trots te wees op die span in groen en goud.

Na die sport was daar ‘n gesellige bring-en-braai. Almal het heerlik saam gekuier en daar is tot laat staaltjies vertel en nuus uitgeruil.

Op Sondag 1 Maart is die reünienaweek op gepaste wyse afgesluit met ‘n pragtige kerkdiens in die skoolsaal. Jamon Snyman, hoofseun van 2002, het die diens waargeneem.

Almal was dit eens: die wete dat jy iewers behoort, was die lekkerste van hierdie reünienaweek. Almal se harte het met dieselfde ritme geklop vir Middelburg Hoërskool en volgende jaar se reünienaweek gaan beslis nóg groter en beter wees met nóg meer nuwe ou gesigte.

Michelin Ster vir oud-Middie Jan-Hendrik van der Westhuizen

JHJan-Hendrik van der Westhuizen is ‘n oud-Middie op wie ons baie trots is. Hy het presies gedoen wat ons hier by Middies leer, nl. om nie bang te wees om te droom nie. Vandag het hy sy eie restaurant in Nice, Frankryk, en hy is die eerste Suid-Afrikaner wat ‘n Michelin Ster ontvang het. Jan-Hendrik het die volgende vrae vir Rissiepit beantwoord:

Vertel vir ons kortliks van die toekenning wat jy ontvang het en hoekom dit so ‘n wonderlike prestasie is.

‘n Michelin Ster is soos ‘n Oscar in die koswêreld. Dit is die grootste toekenning waarvan ‘n sjef kan droom. Jou waardes, tegniek en elke aspek van die ervaring by jou restaurant word erken. Dit neem ‘n normale sjef soms ‘n leeftyd om ‘n ster te kry. Ek is baie geëerd om die eerste Suid-Afrikaner te wees wat ‘n Michelin Ster in die geskiedenis van Michelin ontvang.

Vertel vir ons van jou restaurant - waar dit is, die naam, disse, hoekom dit so ‘n gewilde plek is.

Wel, ek weet nie of dit só gewild is nie, maar ons doen iets reg. My restaurant se naam is JAN. Trots Suid-Afrikaans! In Nice, in die Suide van Frankryk, omtrent 20 minute van Monte Carlo. Disse wat ek bedien is Frans met ‘n invloed van my “heritage”. Ons verander die spyskaart baie. Op die oomblik is daar Peppermint Crisp-tert, biltong, vetkoek, mosbolletjies en ook baie Suid-Afrikaanse wyne. Ons het nou so baie Suid-Afrikaners wat by ons kom eet. Dis HEERLIK!

Wanneer was jy in MHS en wanneer het jy matriek geskryf?

Ek was in 1996 ‘n groentjie in MHS en dit was die beste jare van my lewe! Ek het in 2000 gematrikuleer.

Wat was jou gunsteling vak en hoekom?

Sonder enige twyfel was dit Hotelhouding en Spyseniering en Kuns. Ek kon myself uitleef en het geweet ek gaan dit wat ek toe leer in my toekoms gebruik. Dit was elke dag ‘n plesier om skool toe te gaan!

Wie was jou gunsteling onderwyser en hoekom?

Juffrou Duvenage; sy was so cool! Dit was altyd soos om in ‘n studio in New York in te stap as mens in haar klas kom. Ek het met al die onnies baie goed oor die weg gekom en het nog steeds vir hulle almal ‘n sagte plekkie.

Is jy ‘n trotse Middie en hoekom?

Middies het gees. Ons het stamina en ons weet hoe om uit te hou! Ek voel nog altyd soos ‘n Middie en ja, soms neurie ek nog in my kop die skoollied. Dit wys net vir jou!

Wat het jy by MHS geleer wat jou voorberei het vir die lewe na skool?

Ek het aan elke aktiwiteit moontlik deelgeneem wat daar was, of ten minste probeer. En dit was ‘n les op sy eie. Probeer alles. Dink uit die boks. Maak vriende; my beste vriende is nog van skooldae.

Wat is jou leuse in die lewe?

Ek is nie bang om ‘n fout te maak nie. Ek sal liewers iets doen en ‘n fout maak as wat ek dit glad nie gedoen het nie en vir die res van my lewe sal spyt wees. Wees jouself. En skryf jou eie storie.

Het jy ‘n rolmodel? Wie en hoekom?

Ja, my ouers. Hulle ondersteun my nog altyd, van dag een af. Ek kan soms weird wees, soms weird idees hê, ek kan selfs ook nie soos die normale mens dink nie; tog verstaan hulle my altyd.

Enige spesiale boodskap aan Middies?

Almal sê dit, maar dammit! Skool gaan te vinnig verby! Geniet dit terwyl julle daar is. Dis die laaste paar jare wat jy het voor jy die REGTE wêreld slaan. Fokus, wees nie altyd te soet nie, los jou merk en maak seker jy kan terug kyk en sê, ek het ‘n GREAT tyd gehad gedurende my skoolloopbaan!

Kriekie van Wyk speel steeds hokkie in groen en goud

Kriekie1Op skool het Kriekie van Wyk die hokkiedoele laat klap toe sy in die groen en goud van MHS gespeel het. Deesdae speel sy steeds in groen en goud, maar nou laat sy die doele klap vir die 0/21-Proteaspan. En as sy nie hier in Suid-Afrika besig is met oefening saam met die Proteaspan nie, is sy in Amerika waar sy studeer en ook hokkie speel. Kriekie het die volgende vrae beantwoord:

Jy is gekies vir die 0/21-Proteaspan. Beskryf vir ons die gevoel toe jy by die span ingesluit is.

Mens kan nie daai gevoel beskryf nie. Trane van blydskap! Ek kon nie ophou huil en glimlag terselfdertyd nie.

Watter posisie speel jy en oor watter spesifieke vaardighede moet jy beskik om hier te kan speel?

Striker, mens het spoed en visie nodig vir die spesifieke leads wat mens moet maak.

Vir watter universiteit in Amerika speel jy ook hokkie en watter posisie speel jy daar?

The University of the Pacific. En ook striker.

In watter rigting studeer jy?

HESP - Health Exercise and Sports Science.

Vertel vir ons so ‘n bietjie van die universiteitslewe in Amerika.

Wel, dis amper presies soos wat mens in movies sien! Definitief baie anders as SA, maar dis lekker. Almal is baie sosiaal en wil mens beter leer ken. As jy Afrikaans is, sukkel mens so bietjie met die Engels, maar ,n mens het darem Engelse vriende daarvoor.

Geniet jy dit in Amerika of verlang jy maar baie huis toe?

Ek geniet dit, ja. En natuurlik verlang ek. Jou land bly jou land en ek meen, nie enige land kan spog met hulle lekker biltong en steaks nie. En soms raak ek homesick, maar my vriende daar anderkant maak dit makliker.

Hoe het die opvoeding en onderrig wat jy by MHS ontvang het jou voorberei vir die lewe na skool?

Wel, die mense het my baie geleer hoe om verantwoordelik te wees en hoe om op te tree in sekere situasies.

Wat maak dat MHS se hokkie so goed is?

Die afrigters speel ‘n groot rol, want hulle is passievol in dit wat hulle doen. Die spelers is ook altyd bereid om hard te werk en beter te word.

Waar kom die naam “Kriekie” vandaan?

My oumagrootjie het my die bynaam gegee.

Wie is jou rolmodel en hoekom?

Nicolene Terblance. Sy is my hokkiementor op die oomblik en iemand na wie ek nog altyd kon opkyk, veral oor sy ook so passievol is oor haar hokkie. Sy’s hardwerkend en baie plat op die aarde.

Enige spesiale boodskap aan Middies?

Wees vry. Geniet skool en maak die beste van elke oomblik. Never forget that God’s got your back.

Dr. Nadine se hart klop warm vir pasiënte

Nadine 5 LL ZN

Wanneer jy by dr. Nadine Jooste se spreekkamer instap, word jy met ’n helder glimlag ontvang wat sorg dat jy byna van jou verkoue vergeet.

Dié oud-hoofdogter van Hoërskool Middelburg gee werklik vir haar pasiënte om, kom jy sommer gou agter.

“Jy moet bereid wees om ’n pad met mense te stap en hul héle prentjie in te kleur. Dit is iets wat deesdae baie maklik verlore gaan.”

Na haar jare by MHS het sy keuring by MEDUNSA gekry om medies te studeer en sy het haar gemeenskapjare by Chris Hani Bragwanath Hospitaal gedoen – die derde grootste hospitaal ter wêreld.

En dit is létterlik ’n mediese drukkoker: daar is ’n gemiddeld 160 pasiënte per maand wat koeëlwonde het en daar is meer as 350 noodgevalle. Elke dag.

“Dit was aanvanklik intimiderend, maar tog ’n baie goeie leerskool en ’n tydperk wat ek vir niks sal verruil nie. Bara raak amper soos jou tweede huis as jy so lank daar is.”

“Dr. Nadine”, soos sy deur inwoners gedoop is, het by die staat aangebly en in psigiatrie gespesialiseer. Sy is tans besig met haar diploma in dié mediese rigting by die Universiteit van die Witwatersrand.

“Ek kry met pasiënte te doen wat met angs en depressie sukkel, of selfs aan skisofrenie of verslawing ly. Dit beteken vir my só baie as ek mense kan help.”

Maar jy moet ook nie die waarde van ’n algemene praktisyn onderskat nie, maan sy.

“Spesialiste fokus byvoorbeeld net op kinders, óf ’n spesifieke mediese kwessie. Daarteenoor moet jou huisdokter kennis oor ’n breë spektrum mediese aangeleenthede hê. En dit is nie altyd so eenvoudig soos wat dit lyk nie.”

Wat is ’n dokterspreekkamer nou sonder lekkergoed vir die jongspan? En op haar lessenaar is daar omtrent ’n emmer vol suigstokkies.

“Hoe dan anders? Ek het ’n baie sagte plekkie vir kinders in my hart en deur bloot net na die dokter te kom, verdien hulle al ’n suigstokkie!”

Natuurlik het sy ook net lof vir haar oud-skool. Buiten haar akademiese prestasies, was sy ook op die atletiekveld in aksie, het provinsiale tennis gespeel én vir die eerste dogtershokkiespan uitgedraf.

“Omdat my pa ’n melkery besit het, was my bynaam ’n effens voorspelbare ‘Melkie’. As dinge egter spannend op die hokkieveld geraak het, het juffrou Rachel MacDonald dié bynaam luidkeels na ‘Mééélk’ verander,” onthou sy laggend.

Die tyd by Laerskool Staatspresident C.R. Swart en Hoërskool Middelburg het duidelik vir die perfekte boustene vir haar mediese loopbaan gesorg en sy het in April 2015 terug na Middelburg getrek en praktiseer by Drs. Van Rensburg en Vennote.

“Die wete dat ek ’n verskil in iemand se lewe kan maak, laat my in die oggende met ’n glimlag opstaan. Ek lééf my passie hier in Middelburg. Dit is wat ek nog altyd wou doen,” sluit sy die onderhoud af met ’n glimlag nét so warm as waarmee sy jou gegroet het.

Een ding is seker: dr. Nadine Jooste kan nie net ’n stetoskoop laat goed lyk nie; sy laat élke pasiënt (jonk én oud) beter voel.

• Sy het gedurende Juniemaand ’n Botox- en fillerwerkswinkel deur dr. Mauricio de Maio (plastiese chirurg van Brasilië) in Kaapstad bygewoon.

Van MHS-hoofdogter tot spogdokter

Daar word gereeld gesê dat oud-leerlinge ’n belangrike rol in ’n skool se suksesverhaal speel. As dit die geval is, het Hoërskool Middelburg ’n besonderse hoofstuk in dr. Nadine Jooste.

nadine joosteDie MHS-hoofmeisie van 2003 is terug in die dorp waar sy as dokter by Drs. Van Rensburg en Vennote praktiseer. En haar jare by Middies het vir die perfekte loopbaanboustene gesorg.
“Ek verlang baie na my hoërskooldae. Dis is ’n kosbare tyd in jou lewe,” sê sy Vrydagoggend in haar spreekkamer.
Buiten haar akademiese prestasies, was sy op die atletiekveld in aksie, het provinsiale tennis gespeel én vir die eerste dogtershokkiespan uitgedraf.
Omdat haar pa ’n melkery besit het, was haar bynaam op skool ’n effens voorspelbare ‘Melkie’.
“As dinge egter spannend op die hokkieveld geraak het, het juffrou Rachel MacDonald dié bynaam luidkeels na ‘Mééélk’ verander,” onthou sy laggend.
Was sy stout op skool?
“Nee, ek was te bang! Maar daar was soveel hoogtepunte – soos jou graadagtkamp, die leierskamp – daar is net te veel om op te noem.”
Sy is ook net vol lof vir die skoolhoof, mnr. Johan Stronkhorst.
“Hy is ’n fantastiese hoof en ek onthou hoe hy letterlik elke kind se naam geken het. Ek het nog nie ’n hoof gesien wat soveel passie vir sy skool het soos hy nie. Dinge gaan net vorentoe met hom aan die stuur van sake.”
Na haar Middiejare het sy keuring by MEDUNSA gekry om medies te studeer. Sy het haar gemeenskapjare by Chris Hani Baragwanath Hospitaal gedoen – ’n tydperk wat sy vir niks sal verruil nie.
“Dit was aanvanklik intimiderend, maar tog ’n baie goeie leerskool. Ek het na dié jare by die staat aangebly en in psigiatrie gespesialiseer.”
Maar, in haar eie woorde, het die platteland haar net te veel getrek en sy is sedert Aprilmaand weer terug in die dorp.
Waar baie van ons omtrent met die aanvang van elke skooljaar ’n nuwe loopbaanrigting wou inslaan, het sy van kleins af geweet dat sy ’n dokter wil word.
“Ek het net ’n passie vir mense en jy kan in hierdie beroep soveel vir iemand beteken.”
Sy is van 08:00 tot 16:30 in haar spreekkamer.
“Dit is belangrik dat pasiënte holisties behandel word. Jy moet ’n pad saam met hulle stap.”
Sy is passievol oor psigiatrie en beplan om haar diploma daarin te doen. Verder onderneem sy ook Botox-behandeling vir pasiënte wat daarna vra.
Gaan sy volgende jaar se derbystryd tussen Middies en HTS Middelburg bywoon?
“Natuurlik. Hopelik as ’n spandokter,” sê sy met ’n groot glimlag.
Dr. Nadine Jooste se Middiehoofstuk sal dus vir seker vir nog ’n paar lekkerlees paragrawe sorg. Sy is immers ’n reuse aanwins vir die dorp.

skolebylaag halfblad typography

Oud Middie presteer

Mart-Mari de Bruyn matriculated at Middelburg Hoërskool end of 2010.   She passed her grade 12 with 8 distinctions.
She entered her studies at Rhodes University in Grahamstown, in the BSc field.
After completing the first year, she was recommended to the Golden Key International Society (to which she subscribed).   Only the top 15 % of students get to subscribe to this institution.  She already received distinctions to all her subjects at the end of the first year, and was also placed on the Deane’s list of merit.
Mart-Mari also obtained distinctions to all her subjects at the end of her second year, and was once again placed on the Deane’s list of merit.
At the end of the third year, she passed her degree with 2 distinctions.   She had 2 major subjects during this year :  Microbiology and Biochemistry.
For this excellent results, Mart-Mari was awarded the following :-
Academic Honours
Andrew Mellon Foundation Postgraduate Scholarship – Honours
Dr Kendall Scholarship
Rhodes University Honours Degree Scholarship
Mart-Mari graduated on 12 April 2014 at Rhodes University, Grahamstown (see the attached graduation photo).
She is currently busy with her Honours Degree in Microbiology.
Mart-Mari has also been selected as sub-warden in her residence (Hobson House) since January 2013.
She is a proud ex product of Middelburg Hoërskool .